Paartjie vier 60 gelukkige jare
Die geheim vir 'n gelukkige huwelik? Veg hard, maar saam.
Na 60 jaar saam is Richard en Hester van Schalkwyk steeds ’n formidabele span.
“Ons doen steeds alles saam, al is dit nou ’n bietjie stadiger,” sê Richard.
Richard is in Krugersdorp gebore en het daar skoolgegaan. In 1960 het hy op ’n Saterdagmiddag tydens ’n kerkjeugbyeenkoms vir Hester ontmoet toe hy, effens laat, die enigste oop sitplek in die stampvol kerksaal gevind het – toevallig reg langs haar.
“Tydens die pouse het ons aan die gesels geraak,” vertel Hester. “Die volgende oggend, toe ek soos gewoonlik orrel in die kerk speel, kyk ek op en daar sit hy weer.”
Destyds was Hester die hoofmeisie van Hoërskool Roodepoort en deel van die skool se heel eerste matriekgroep in 1960.
“Ons het mekaar oor die volgende maande beter leer ken. Ek het verder gaan studeer, terwyl Richard intussen by die destydse poskantoor ’n betrekking aanvaar het.”
Die twee het uiteindelik op 29 Januarie 1966 getrou. Hester, wat die rustige atmosfeer van die biblioteek maar eensydig gevind het, het later by die Johannesburgse stadsraad begin werk en daar tot met haar aftrede gebly.
Richard het as ouditklerk by die Roodepoort Munisipaliteit gewerk en ook ‘n paar jaar in die bankwese deurgebring voordat hy ’n pos by die SAUK aanvaar het.
“My eerste liefde was egter nog altyd toerisme. Ek het myself as ’n nasionale toeroperateur bekwaam en uiteindelik my eie toerismemaatskappy bedryf tot met my aftrede in 2010,” vertel hy.
Oor hul 60 suksesvolle huweliksjare sê Richard: “Ons was nog altyd baie gelukkig. Sy as sy raakgooi, en ek as sy mis.”
Hester, wat vir jare ’n bekende plaaslike musiekonderwyseres was, vertel dat die geheim van hul langdurige geluk op twee sake berus: Eerstens dat Richard dikwels vir sy werk op reis was, en tweedens hul gesamentlike geloof in die Here.
“Ons geloof was vir ons altyd van uiterste belang, en ons kon saam daarin groei,” sê sy. “Die Here was deurgaans deel van ons huwelik en ons het saam aanbid.”
Die egpaar moes hul beplande vakansie Kaap toe om hul huweliksherdenking te vier vir gesondheidsredes uitstel, maar hulle beplan om later vanjaar dié avontuur aan te pak. Intussen het hulle die geleentheid tydens ’n gesellige ete saam met vriende en familie gevier.



