Florrie-onnies stap myle vir pryse
Laerskool Florida se personeel het hul stapskoene aangetrek vir ’n spanuitdaging wat daarop gemik is om onderwysers se fisiese en geestelike welstand te bevorder.
Vir Laerskool Florida se hoof, Rickus Swanepoel, is die fisiese en geestelike welstand van die onderwysers onder sy sorg van uiterste belang.
Volgens Swanepoel is dit waarom hy daarop aandring dat onderwysers genoeg rus en oefening kry.
“Hier teen die einde van die jaar is almal behoorlik uitgebrand,” sê hy.
“Dit is algemene kennis dat oefening wondere vir ’n mens se algemene gesondheid en energievlakke verrig. Daarom het ek dit gepas gedink om vir my personeel ’n uitdaging in die vorm van ’n kompetisie te stel.”
In vorige jare moes onderwysers tydens afperiodes en pouses om die skoolveld stap. Die onderwyser wat die meeste rondtes voltooi het, het ’n prys gewen.
“Vir hierdie jaar se kompetisie is die personeel in spanne opgedeel, en mag hulle selfs ná-ure afsonderlik stap.
“Hulle treë word deur middel van ’n selfoontoep aangeteken, en die span met die meeste treë wen ’n prys.”
Swanepoel voeg by dat enige borgskappe van pryse uit die gemeenskap welkom sal wees.
“Ons het nege spanne met interessante name: Hakke, hitte en histerie, Ons kom daar, Make it loud, Florrieland, Van klas tot kilometer, Stapsusters, Admin Divas, Stappiesindikaat en Pousepote.”



