Bokser se voete plat op die aarde geplant
Dié bokser wil die sport in die familie hou en moedig ander meisies aan om ook deel te neem.
Op die ouderdom van 23 is Leandrie Botha iemand wat beslis nie onderskat moet word wanneer dit by boks kom nie.
Sy het verduidelik dat sy en haar gesin Witpoortjie toe getrek het nadat haar pa oorlede is en het voorheen in Mafikeng gewoon.
Sy het boks ontdek toe haar broer besluit het om by die Vikings Boxing Academy, in Witpoortjie, aan te sluit. Met ‘n oom wat ook boks het Leandri besluit om dit in die familie te hou. Sy verduidelik sy het karate en gevegkuns probeer, maar dit was nie vir haar nie en by boks het sy egter haar aanklank gevind.
Sy erken hulle sukkel om vir haar opponente te kry om teen te boks aangesien die meerderheid vegters rooi boksers is. Dit beteken hulle het net twee of drie gevegte agter die rug en Leandrie is ‘n silwer bokser. Om hierdie prestasie te bereik moet ‘n vegter vyf of ses gevegte agter hulle naam hê. Sy het selfs al twee keer na die SA Kampioenskappe gegaan.
Sy het genoem dat sy geen probleem daarmee het om mee te ding met ‘n rooi bokser nie – sy sal eerder bietjie terughou vir die geleentheid om van hulle te leer en hulle ook help om van haar te leer.
Sy sê wel dit is haar droom om haar boks verder te vat en hulle probeer om volgende jaar haar pro-kaart te kry.
Aan voornemende vegters sê sy dit sal goed wees as meer meisies kom boks, ‘dit help hulle om hulself te beskerm’.
“Ek wil graag vir my afrigters dankie sê vir hulle hardewerk en hulp om die vegters so ver as moontlik te vat in die lewe. Hulle ondersteun ons en praat nie sleg nie, maar lei ons eerder in die regte rigting,” het Leandrie afgesluit.



