Stiltetyd: Is die keiser kaal?
Terwyl die Christelike gemeente gedink het alles is in orde met hul verhouding met die Here, was die keiser kaal, by wyse van spreke.
Dalk is jy bekend met die uitdrukking: “Die keiser is kaal.” Die uitdrukking beteken dat iemand of iets nie so goed is soos wat dit voorgee om te wees nie. Dit kom van ‘n sprokie waarin ‘n keiser dink hy het pragtige nuwe klere aan, maar in werklikheid het hy niks aan nie en is hy kaal. In die bekende brief aan die gemeente in Laodisea word gepraat van ’n groepie Christene (‘n klein gemeente) in die dorp wat hulself ’n rat voor die oë gedraai het. Ons lees in Openbaring 3:16 dat die Here aan hulle skryf dat omdat hulle nie warm of koud is nie, maar lou is, Hy hulle uit Sy mond gaan spoeg.
Die dorp waarbinne die gemeente hulself bevind het, was wêreldberoemd vir sy tekstielprodukte. Kosbare materiaal en klere is ook daar vervaardig. Veral hulle donkerkleurige wolmateriaal was besonder gesog. Daarby het hulle ook oor ’n mediese skool beskik, waar helende oogpoeier vervaardig is en baie pasiënte daarheen gelok is. Die Christene in Laodisea se selfbesef het gemaak dat hulle eintlik ’n spieëlbeeld van die gemeenskap was waarin hulle geleef het. Hulle het niks en niemand nodig gehad nie.
“Ek is ryk en skatryk en het aan niks gebrek nie,” was hulle siening oor hulself. Christus waarsku hulle: ”Omdat julle louwarm is, nog warm nog koud, gaan ek julle uit my mond spoeg.” In daardie omgewing was daar ’n koue rivierstroom wat oor ’n stroomversnelling gevloei het en as dit by die stad uitgekom het, lou was. Koue water was verfrissend en die warm water het genesende krag gehad. Die water wat deur Laodisea gevloei het, was nog warm nog koud. Dit was nog verfrissend nog genesend en het eintlik die moeë reisiger gewalg.
Terwyl die Christelike gemeente gedink het alles is in orde met hul verhouding met die Here, was die keiser kaal, by wyse van spreke. Hulle het gedink dat omdat hulle selfonderhoudend was, dit ook vir ander gegeld het. As dit met jou goed gaan, moet nie vergeet dat daar dalk ander is wat in ’n slegter bootjie as jy vaar nie, anders sal jy ontdek dat ook jy verdien om soos lou water uitgespoeg te word.
