
Die uwe moes vandeesweek vinnig ’n oplossing kry toe ’n langdurige kragonderbreking my skryftyd drasties verkort het, en ek vinnig ’n plan moes maak. Gelukkig kon ek staatmaak op ’n bydraer wat gereeld berigte aan die SC Fever stuur, naamlik Afrikaans.com. Die berig wat ek gekies het, handel oor ’n onderwerp waarmee veral moeders (en vaders) die een of ander tyd te doen gaan kry. Naamlik die vraag: Mamma, waar kom baba’s vandaan? Die skrywer is Anja van der Berg, en haar berig is effens verkort:
“Dit maak nie saak of jy ’n gesoute advokaat, ’n geharde besigheidsvrou of ’n ma van staal is nie. Wanneer Die Vraag opduik, gaan jy steeds borrels hap. ‘Mamma, waar kom babas vandaan?’ Aah, seksvoorligting. Daar is boeke geskryf en doktorsgrade verwerf, maar al die teoretiese kennis in die wêreld kan jou nie heeltemal voorberei vir die dag wat Die Vraag te voorskyn kom nie. Dit gaan by ’n braai, ’n kerkbasaar of jou skoonma se verjaarsdag gebeur. Jy kan maar weet dat Die Vraag nie sy opwagting sal maak terwyl jy knus in jou sitkamer aan ’n koffietjie teug en jou woorde mooi kan weeg nie. Jou kind sal jou gesprek met die dominee by die jaarlikse gemeentebraai móét onderbreek, of ’n dringende navraag hê terwyl jy die kwartaal se Bulletjie Rugby-skedule met die skoolhoof by die kermis bespreek. Die Vraag kies veral familiegeleenthede om uit die bos te spring en ouers tussen die oë te skop.
Die rede vir die tydsberekening sal luidkeels aangekondig word. Onder ander omstandighede sou jy die woord kon doen, maar jou mikro-uitdrukkings van skok sal jou kind aanpor om vinnig sy redenasies te verduidelik. ’n Niggie het gesê dat tannie Lenie en oom Doepie saadjies in ’n warm nessie geplant het. Nou’s daar ’n baba op pad! Jou kind het gesien dat die saadjies in julle groentetuin wortelgeskiet het en wil net weet: ‘Gaan julle nou ook ‘n baba kry?’ Want, natuurlik, het sy reeds vir haar juffrou vertel julle gaan.
Jou gespreksgenote gaan laat spaander. As jy ooit ’n groepie uitgevrete grootmense wil sien steier, keel skoonmaak, verskonings opmaak en hulself uit die voete maak, kan jy maar weet. Die silhoeët van ‘n vyfjarige was ‘n voorbode vir Die Vraag. Jou sogenaamde ‘vriende’ moet skielik almal ’n oproep maak, ’n hond gaan bad of ’n wesie gaan voed.
Daar is ’n beproefde antwoord wat jou (tydelik) uit die sop sal help. Tussen sosaties en paptert moet jy nou besluit, praat jy oor die blommetjies en bytjies of stuur jy hulle na die roomystent met jou kredietkaart? Voordat jy ingee aan jou instink om die ooievaar by die penarie te betrek, stoot jou bors uit, trek jou skouers terug en gaan vir die antwoord wat jou soos ’n yster laat lyk: “Wat ’n goeie en belangrike vraag! Mamma en tannie Trish is nou net besig om wyn te drink. Kom ek vertel jou later alles wanneer ons by die huis is.”
Jy kan jou kind bemagtig soos niemand anders kan nie. Die Vraag is jou geheime kodewoord. Jou kind vra hulp en dis tyd om haar te bemagtig. Baie ouers dink dat gesprekke oor seks hul kinders sal aanhits om te eksperimenteer. Navorsing wys gelukkig dat presies die teenoorgestelde waar is. Nou, waar moet jy begin? In my dae was daar sedelessies teen die Groot Vyf: drink, rook, vloek, seks en dwelms (effe aangepas vir die laerskooljare na afskryf, vry, skinder, jok en teëpraat). In 2025 is die wêreld veel meer genuanseerd en jy moet hare op jou tande hê om jou kind veilig te hou. Hier’s ’n paar beproefde maniere:
Bou jou woordeskat. As jy ’n gesprek in Frans wil hê, moet jy Frans kan praat. As jy in KwaZulu-Natal bly, moet jy verstaan wat Sawubona beteken. As jy oor seksualiteit wil praat, moet jy die lingo hê. Bonuspunte as jy daarmee begin wanneer hulle nog babas is.
Gebruik die regte woorde Koekies en blommetjies is vir die teetafel. Soos wat ons arms en bene het, het ons ook geslagsdele. Dis onnodig om ander name daarvoor op te maak. Dit kan kinders verwar of hulle laat glo dat daar iets slegs aan ‘daai’ dele van hul lywe is.
Antwoord eerlik en eenvoudig. Hou die aanvanklike verduidelikings kort en gepas vir hul ouderdom. Laat hulle toe om vrae te vra.
Die Vraag is net die opening van die gesprek, Oefen om openlik, spontaan en gereeld oor seksualiteit te praat sodat kinders leer dis normaal, natuurlik en welkom.
Fokus ook op genot en liefde. Seksvoorligting moenie net oor tienerswangerskap en siektes gaan nie. Gesels ook oor wat dit ’n goeie ervaring maak.
Dis dalk nie van die maklikste gesprekke nie, maar dink daaroor: jou kind gáán die inligting iewers kry. As jy nie self die hef in die hand neem nie, gaan die media, maatjies, of – nog erger – ’n maatjie se ouer boetie met ’n selfoon dit doen. Jy hoef gelukkig nie onmiddellik al die antwoord te hê nie. Hoe jy reageer is baie belangriker. Solank geen onderwerp taboe is om oor vrae te vra nie, is jou kop halfpad deur. Nou moet jy nog net die juffrou bel en verduidelik dat jy nie wortelgeskiet het nie.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram