Ware grootheid lê in liefdevolle diens
Ons moderne samelewing is ook dikwels gefokus op selfbevoordeling.
Filippense 2:4-7 bevat een van die mooiste beskrywings van Christus se diensbaarheid. Paulus skryf dat Jesus, alhoewel Hy God was, Homself verneder het en die gestalte van ’n slaaf aangeneem en aan mense gelyk geword het. Hierdie gedeelte was bedoel om gelowiges in Filippi op te roep tot nederigheid en onselfsugtige diens aan mekaar. In die antieke wêreld was status, eer en mag baie belangrik. Mense het voortdurend probeer om hoër aansien te verkry. Paulus daag hierdie kultuur uit deur Jesus as voorbeeld van selfopofferende liefde voor te hou.
Ons moderne samelewing is ook dikwels gefokus op selfbevoordeling. Die druk is op mense suksesvol te wees en te presteer. Natuurlik wil niemand mislukking promoveer nie. Dit gaan egter oor hoe jy die leer na sukses klim. Baie konflik in families, kerke en werksplekke ontstaan omdat mense hul eie belange eerste stel. Filippense leer dat ’n gesindheid van nederigheid en diensbaarheid aan ander, nie swakheid is nie. Dit is die bereidheid om ander se belange raak te sien en diensbaar te wees. ’n Nederige persoon hoef nie voortdurend erkenning te ontvang om waardevol te voel nie.
In die werkplek kan nederige diensbaarheid beteken dat ’n bestuurder na werknemers luister. In ’n huwelik beteken dit om eerder te dien as om altyd reg te wil wees. In gemeenskappe beteken dit om na kwesbare mense om te sien. Jesus se voorbeeld wys dat ware grootheid nie in mag lê nie, maar in liefdevolle diens. Wanneer mense bereid is om ander eerste te stel, verander verhoudings. Paulus herinner ons dat God die nederiges verhoog. In ’n wêreld waar mense dikwels mekaar probeer oorheers, bly Christus se voorbeeld radikaal anders. Hy roep gelowiges om nie net oor hul eie behoeftes te dink nie, maar ook oor dié van ander.
Ware nederigheid en diensbaarheid aan ander, skep ruimte vir vrede, samewerking en wedersydse respek. Christus lê sy lewe af vir mense wat dit nie verdien nie. Christus se gesindheid is vandag net so noodsaaklik is soos in die tyd van Paulus. In verbondenheid met Christus en deur die geloof in Hom, is ons vervul met ? gesindheid van diensbaarheid. Dit is tegelyk ’n gegewe en ’n opdrag. Mag dit so wees in jou lewe vandag.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page