South Coast Fever

JOHAN PRETORIUS: ‘n Spesiale herinnering uit die verlede

Daardie twee Portugese het nog steeds ‘n spesiale plek in my herinneringe.

Die joernalistieke beroep, soos enige ander, het sy voordele en nadele. Die uwe was bevoorreg om oor ‘n tydperk van 55 jaar in verskeie hoedanighede deel daarvan te wees, en blootgegrond op my eie ervaring, is sowel die nadele as die voordele groter as dié van talle ander beroepe. Onder die nadele, afhangend van watter vertakking van die beroep ter sprake is, is daar die lang ure, dag en nag, uithuisigheid, vergoeding wat nie altyd in verhouding is met die hoeveelheid ure gewerk nie, die stremming as gevolg hiervan op huwelike en gesinslewens, en baie belangrik, die negatiewe beeld wat die beroep in sekere kringe het. Die voordele sluit in stimulerende en interessante werksomstandighede, die geleentheid om mense op alle vlakke van verskillende beroepe en samelewings te ontmoet, en, weereens afhangend van die vertakking van die beroep, die geleentheid om te reis en verre lande te besoek en ander kulture te ervaar.

In ‘n rubriek soos hierdie is dit uiteraard nie moontlik om in besonderhede in te gaan nie, maar ek sal graag een positiewe ervaring wil noem wat my bybly. In 1984 was ek twee weke lank deel van ‘n persgalerygroep wat saam met die destydse President PW Botha 10 Europese lande besoek het. Van die een stad, nuusgebeurtenis en redigerings-ateljee na die ander met die destydse groot, swaar TV-toerusting. Hier teen die derde, vierde dag van so ‘n reis is jy reeds uit op jou voete, want slaap is beperk tot drie, vier uur per nag. Nadat jy jou berigte getik, op-kameraverslae geredigeer en per satelliet deurgestuur het, is dit reeds nege, tienuur, selfs later per aand. Dan moet jy nog iets eet, en natuurlik ook die plek waar jy is, bietjie gaan verken.

Ons het teen die einde van die eerste week Lissabon aangedoen waar President Botha en sy afvaardiging met die destydse president Soares van Portugal beraadslaag het. Dit was ‘n baie warm somersdag. Ons het teen tienuur die oggend by die indrukwekkende presidentswoning aangekom, die nodige opnames gedoen van die interaksie in die tuin, waarna die afvaardigings in die ou paleis in verdwyn het. Ons groep joernaliste, wat talle van ander lande ingesluit het, moes intussen die tyd verwyl. Ek het ‘n eerste kameraverslag gedoen, waarna ons TV-groep ons toerusting gebêre en die paleis se mooi tuine verken het. Na ‘n half-uur se rondloop het ons weer in die rigting van die paleis beweeg, en by ‘n metaal-grensheining afgekom waar arbeiders aan die straatkant besig was met bouwerk aan ‘n sypaadjie langs ‘n gebou.

Hulle het ons aandag getrek weens hul ongeskeerde gesigte, deurmekaar hare, luidrugtige gesels en periodieke lagbuie. Hulle het sement, sand en betonblokke met grawe en ander implemente as hulpmiddels, gebruik om ‘n groot deel van die sypaadjie te herstel en vernuwe. Hulle het gesien ons hou hulle dop, maar ongesteurd voortgegaan vir sowat twintig minute, totdat daar ‘n sirenegeluid uit ‘n paneelwa laer af in die straat gekom het. Hulle het onmiddellik ophou werk, en hul implemente teen ‘n gebou op die grond neergesit. Dit was twaalfuur. Etenstyd. Hulle het in groepies van twee bymekaar gekom, en al geselsend hul bliktrommeljies, sulke verweerde groenes, onder ‘n boom gaan haal. Die twee die naaste aan ons het saam na ‘n plek teen die muur oorkant die straat gestap.

Hulle het die trommeltjies neergesit, rondgeloop en bakstene opgetel. Baie vinnig het hulle ‘n klein tafeltjie en twee stoeljtjies met ‘n paar bakstene gebou. Die een het ‘n spierwitskoon tafeldoekie uit sy trommel gehaal en oor die tafeltjie gegooi. Die ander een het ‘n bottel rooiwyn tevoorskyn gebring, die prop wat net in die bottel teruggedruk is, uitgetrek, en twee glase, wat deur sy maat aan hom oorhandig is, volgemaak. Hulle het gaan sit, elkeen ‘n bord uit sy trommel gehaal, saam met twee varsgebakte brode, (ons kon hoor dis varsgebak toe hulle die brode breek en die korsies raas soos hulle kraak). Een het ‘n kasset-opnemertjie tevoorskyn gebring, dit aangeskakel, en sagte fadomusiek het die lug gevul. Die twee het op hul tyd gesels, gelag, net die vars brood geëet en wyn gedrink, onbewus van die toeskouers wat hulle van oorkant die straat op die presidents-eiendom dopgehou het. Om half-een het die sirenegeluid weer uit die voertuig opgeklink, hulle het opgestaan, die oorblywende stukkies brood, glase, tafeldoekie en leë bottel in hul trommels weggepak, die bakstene verwyder, en die trommels onder die boom teruggeplaas. Steeds geselsend, het hulle hul werk hervat.

Ons het redelik diep ingedagte teruggeloop na die paleis toe waar die joernaliste nog staan en wag het. Ons moes nog twee ure lank wag vir die samesprekings om te eindig, steeds diep beïndruk met die manier waarop die twee arbeiders hul eie eenvoudige lewens op ‘n gewone dag met net die basiese dinge opgekikker het. Dis nou amper veertig jaar later. Daardie twee Portugese het nog steeds ‘n spesiale plek in my herinneringe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button