Stiltetyd: Die Here luister
Ons lewe in tye waarin kommunikasie vinnig en onmiddellik is.
Ons lewe in tye waarin kommunikasie vinnig en onmiddellik is. Soms sien mens op digitale platforms soos WhatsApp, dat ’n boodskap uitgevee word onmiddellik nadat dit geplaas is. So asof die persoon nie mooi gedink het nie. Ander kere raak mense kwaad wanneer hulle nie dadelik ’n antwoord op hul boodskap ontvang nie. Die Psalms in die Bybel gee vir ons insig in die manier waarop gelowiges destyds met God gekommunikeer het. In Psalm 4:3 vertel die Psalmis vir ons van ‘n keer toe hy in die noute was. “God wat my reg handhaaf, antwoord my wanneer ek roep. Toe ek in die noute was, het u vir my ruimte gemaak.” Om in ’n noute te wees is ’n goeie beskrywing van situasies in die lewe wat mens kan laat voel dat jy ingeperk of vasgekeer word. Kinders beleef dikwels dat hulle ingeperk word en hulself in ’n noute bevind vanweë die grootword proses. Middeljarige mense beleef soms dat hulle ingeperk is vanweë die besef dat hulle nie verder kan vorder in hul loopbaan nie. Ouer mense voel ingeperk deur die beperkinge wat die oudword proses aan die liggaam en gees stel. Daar is soveel dinge in die lewe wat mense kan frustreer omdat hulle voel dat hulle by ’n nou plek in hul lewens gekom het.
Die Psalmis hoor verskillende stemme wat roep: ”Wie sal ons weer die goeie laat beleef?” Hoe sal ons uit hierdie noute kom? Sy antwoord is dat mens op die Here sal bly vertrou al verkeer jy in die noute. Sy teenwoordigheid skenk aan die een wat op Hom vertrou innerlike vreugde en vrede. Soseer dat die Psalmis sê dat dit selfs maak dat jy ’n rustige nag het. Dit beteken dat ons die dinge wat ons in die noute gebring het en laat voel dat ons in ’n noute verkeer, in die Here se hande kan los. Dit beteken nie dat mens passief is en niks doen nie. Dit beteken net dat jy vertrou dat jou smeekbede nie in die lug bly hang het soos ’n moderne bedienaar of “server” wat uit diens is nie. Nee. God is nie afhanklik van krag of selfoontorings nie. Roep maar. Hy luister.
