Suid-Afrika, daar is lig aan die einde van die tonnel.
Hier is sy siening van Suid-Afrika se toekoms...

Soos talle ander Suid-Afrikaners, het ‘n swart wolk van pessimisme die uwe die afgelope tyd oorval, Maar diep binne my het ek nog altyd gehoop, veral die afgelope tyd, dat ‘n draaipunt dalk net bereik is. Maandag lees ek in Vrye Weekblad kommentaar oor ons toekoms deur Max du Preez, in sekere, veral Afrikanerkringe, nogal kontroversieël. ‘n Mens hoef nie altyd met hom saam te stem nie, maar sy kommentare is deurentyd weldeurdag, gemotiveer en getuig van ‘n buitengewone insig oor belangrike sake. Hier is sy siening van Suid-Afrika se toekoms:
“Ek het ’n vermoede baie Suid-Afrikaners, dalk die meeste van ons van alle groepe, het al vir twee dekades of so ’n stille, diep vrees dat ons land uiteindelik ’n mislukte staat sou word. In 1994 en die jare daarna het ons soos dassies in die oggendson gebak in die wêreld se verwondering oor dié muishondland aan die suidpunt van Afrika wat soos ’n feniks uit die as herrys het. Vir ’n paar jaar was ons ’n model van versoening, verdraagsaamheid en vooruitgang met Sint Madiba aan die spits; ons sou die vloek dat alle Afrikastate uiteindelik in ’n nes van korrupsie, pestilensie, geweld en armoede verval, uiteindelik besweer. Ons was aanvanklik geduldig met groeipyne waarsonder geen revolusionêre verandering gebeur nie. Miljoene het stede toe getrek om die vrugte van die geleenthede wat ons nuwe bedeling belowe het, te gaan pluk. Dit het gelyk asof die meeste wit Suid-Afrikaners die nuwe, regverdige bestel omhels het, al het dit soms tot simboliese verliese gelei – ten minste is die skandvlek van apartheid op ons voorkoppe uitgevee.
Die draaipunt was daar in 2008 rond: die internasionale ekonomiese krisis en die aankoms van Jacob Zuma as ons president. Die euforie van die hoogs suksesvolle Wêreldbekersokkertoernooi van 2010 het die impak hiervan kortstondig verbloem, maar daarna was dit afdraandepad. Ons het te lank gewag om ’n korreksie te maak. Te veel van ons landgenote se vuigste instinkte het begin ontwaak. En nou sit ons waar ons sit. Die meeste mense wat kan, veral die geskoolde jongeres, verlaat die land. Ons staat stotter, ons plaaslike regerings laat ons in die steek. Ons skeur ons klere, ween en kners op ons tande. Ek kyk Vrydagoggend na die opskrif wat ek op my berig oor Nathi Mthethwa se vlagpaal-waansin in ons jongste uitgawe geskryf het: Pak weg die viool, keiser Cyril, jou land brand.
Nee. Dit is nie regtig waar nie. Die land brand nie regtig nie en Cyril Ramaphosa is nie regtig ’n president wat hom nie aan die lot van die land se burgers steur nie. Ek staan by wat ek in die stuk geskryf het, maar die opskrif was onnodig sensasioneel. Bietjie van ’n cheap shot. Ek het al verskeie geleerde boeke oor die verskynsel van ’n mislukte staat gelees. Van die simptome is wel by ons aanwesig, maar dit is ook waar van vele ander state waar niemand van ’n mislukte staat praat nie, soos Brasilië, Rusland, Griekeland en Argentinië, en ja, selfs die magtige Amerika. Die geleerdes wat die verskynsel van mislukte state navors, is dit eens dat daar veral vier versekeringspolisse teen mislukte staat-status is: ’n oop gemeenskap, ’n funksionerende en onafhanklike regbank, ’n aktiewe burgerlike samelewing en ’n sterk sakesektor.
Ek sou Suid-Afrika 8 uit 10 vir elkeen van dié maatstawwe gee. Dink ’n slag mooi en nugter hieraan. In ons geval sou ek nog ’n waarborg wou byvoeg: Ons is ’n grondwetlike eerder as parlementêre demokrasie, en ons Grondwet is ’n voortreflike, progressiewe dokument waaraan daar in 26 jaar nie gepeuter is nie. Dit sou verspot wees om ons vele probleme gering te skat. Ons sien dit elke dag om ons en ons voel dit aan ons bas. Maar dink só daaraan: As ons met ’n towerstaffie al Eskom se kragvoorsieningsprobleme kon oplos, ons polisiediens meer effektief kon maak om ons almal veiliger te laat voel en ons spoorvervoer en hawens na hul ou glorie te herstel, sou jy steeds so negatief oor die toekoms gewees het? En dit is tog alles binne ’n jaar of drie haalbaar, eerder as onoorkomelike strukturele probleme? Kom ek deel my dagboek van laas week met julle. Dinsdagoggend ontmoet ek ’n tiental begeesterde burgerlike aktiviste, almal Afrikaanssprekend, wat onder meer dialoog in strydende gemeenskappe landswyd fasiliteer, huise vir dakloses bou en onder sukkelende vroue en jongmense werk. Sonder vergoeding. Woensdagmiddag eet ek saam met een van ons land se voorste entrepreneurs. Sy oë vonkel van ywer om ’n verskil te maak en hy deel van sy planne om entrepreneurskap te bevorder. Dié man kon jare gelede al met al sy miljoene in groot gerief en veiligheid in die rykmansbuurte van enige wêreldstad gaan woon het. Donderdagoggend nader ’n prominente akademikus uit ’n radikale swartbewussynsagtergrond my. Hy wil hê ek moet betrokke raak by ’n projek om die waardes en leierskapeienskappe van groot geeste uit ons verlede, soos Mohlomi en Moshoeshoe oor wie ek al veel geskryf het, onder jong swart mense te populariseer.
Gisteroggend eet ek brekfis saam met ’n jongerige boer wat al die pad uit die Overberg gery het om my raad te kom vra oor hoe hy sy droom om plaaswerkers te bemagtig en op die grond te vestig, werklikheid kan laat word. Wat al dié mense gemeen het, sonder om dit só te verwoord, is dat ons heil nie by die politici en die regering lê nie, maar by onsself. Ek is nie in beginsel ’n ANC-hater nie, maar vir my is een van die mees betekenisvolle verwikkelings in ons onlangse geskiedenis die konsensus wat onder ’n kritieke massa begin ontwikkel dat ons in 2024 ’n ander regering as die ANC moet kry. Elke nasie op aarde het al êrens in die geskiedenis deur ’n dal van doodskaduwee gegaan, selfs dié wat vandag die suksesvolste is. Ek vermoed ons is deur die donkerste deel van ons dal.
As genoeg van ons die goeie hoop behou en daarvan werk maak, kan ons “stil droefenis” dalk tog blydskap bring voor ons te oud is om dit te geniet. Hef aan. Ons sal antwoord op jou roepstem. Nkosi Sikelel’ iAfrika. Ek verbeel my ek hoor die eerste note van ’n magtige dreuning wat wyd oor die veld gesweef kom.” Mag dit wel gebeur, Max.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
