Aappokkies – die wêreld se nuwe pandemiestryd?
Die naam daarvan is Aappokkies, oftewel Monkey Pox.
Alles dui daarop dat die huidige Covid-pandemie wêreldwyd besig is om af te plat, hoewel nog lank nie verby nie, maar ‘n nuwe siekte het reeds tot meer as 20 lande versprei, en met die skryf van hierdie artikel is 200 gevalle reeds geregistreer. Die naam daarvan is Aappokkies, oftewel Monkey Pox.
Die Aappokkievirus, wat verwant is aan pokke en waterpokkies, is in 1958 die eerste keer ontdek, en die eerste mens het dit in 1970 opgedoen. Die virus versprei deur noue persoonlike kontak soos vel-tot-vel, soen en seksuele kontak. Lang periodes van aanraking met die beddegoed of klere van ‘n besmette mens kan die siekte ook oordra. Aappokkies dring die liggaam binne deur stukkende vel, die asemhalingstelsel of die oë, mond of neus.
Die Wêreld-gesondheidsorganisasie meen gevalle van Aappokkies buite Afrika sal beheer kan word en alhoe meer regerings het bekend gemaak hulle sal beperkte inentingsveldtogte begin om die verspreiding van die virus te keer. Lisa Bernhard van News 24 het met verskeie kenners gesels, en hulle is dit eens dat Aappokkies nie naastenby so maklik versprei as Covid 19 nie. Dit is ook ‘n self-beperkende siekte, wat beteken dat hospitalisasie en mediese behandeling weining nodig is. Kenners meen die moontlikheid dat Aappokkies ‘n wêreldwye noodtoestand kan veroorsaak, is uiters onwaarskynlik. Die WGO het lande nietemin gewaarsku dat heelwat nuwe gevalle in die nabye toekoms aangemeld sal word.
Die siekte is endemies aan Sentraal- en Wes-Afrika, en daar is twee, nl. die sg. Wes-Afrika-klade en die Kongokom-klade. Al die gevalle tot dusver was van die Wes-Afrikasoort. Onderwyl die wêreld herstel twee jaar na die Covid 19-virus oor die hele aardbol beweeg het, het die nuus oor die Aappokkies alarmklokke laat lui. Van oral kom daar egter gerusstellings dat daar nie rede tot paniek is nie. Aappokkies versprei ook deur die asemhalingstelsel, maar in baie groter druppeltjies as Covid 19, wat makliker en vinniger versprei in kleiner deeltjies met ‘n soort ‘aerosol’-effek.
Aappokkies is dus basie minder aansteeklik as Covid omdat naby-kontak langer moet geskied. Die Europese Unie se gesondheidsagentskap het enkele dae gelede verklaar die risiko dat Aappokkies, ‘n baie seldsame siekte wyd sal versprei, is uiters laag. Dis nie ‘n dodelike virus nie, en dis heel onwaarskynlik dat dit in ‘n wêreldwye noodtoestand sal ontaard. Selfs wanneer daar ‘n toename in gevalle is en dit na meer nie-endemiese lande versprei. Die WGO het bekend gemaak menslike besmettings met die Wes-Afrikavariant het ‘n sterftepersentasie van 3.6 in vergelyking met die Kongokomvariant se 10.6%.
Ook van belang is dat Aappokkies deur ‘n DNA-virus veroorsaak word, in teenstelling met SARS-CoV-2 wat ‘n RNA-virus is. Medici wys daarop dat DNA-virusse nie vinnig muteer nie. Hulle bly stabiel oor lang periodes, en van hulle toon oor dekades geen verandering nie. Elf van die huidige gevalle het gewys dat genoomvolgorde-veranderings wel voorgekom het, maar dat daar feitlik geen noemenswaardige verskille aan die virus self was nie. Daar is dus niks wat nie voorheen in bv. Nigerië waargeneem is nie, behalwe dat dit nou op ander plekke voorkom.
Die Covid-virus daarenteen, het verkeie kere tydens die duur van die pandemie gemuteeer, wat nuwe variante soos Beta en Delta veroorsaak en ernstiger siektes en meer sterfgevalle meegebring het. Die inentings het ‘n groot rol gespeel om die verdere verspreiding, meer infeksies en sterfgevalle te keer. Aappokkies begin met simptome soos koors, hoofpyn, spierpyn en geswolle limfkliere, gevolg deur die tipiese veluitslag. Die meeste van die gevalle is egter matig. In baie gevalle is geen behandeling nodig nie, want die infeksie woed homself uit.
As daar mediese behandeling nodig is, is dit om die pasiënt te help om verligting te kry vir hoofpyn, lyfseer en die gejeuk van die uitslag. Die siekte klaar binne drie tot vier weke op, en wanneer die rowe en letsels verdwyn het, word die pasiënt nie langer as aansteeklik beskou nie. Lisa Bernard sê voorts in haar verslag daar is ook nie langtermyn newe-effekte van die siekte soos met Covid nie. Die mense wat die grootste infeksierisiko loop is diegene wat nabye kontak met ‘n besmette mens het. In die jongste uitbraak was die meeste gevalle by jong mans, wat self verklaar het hulle het seks met ander mans. Talle lande, insluitende Suid-Afrika, het hul waaksaamheid verskerp, en is voorbereid indien gevalle van die siekte voorkom.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
