Die Delvillebos-monument: Herinneringe van ‘n joernalis
Die onthulling was om twee-uur, en ons moes daarna 180 kilometer terug ry na Parys, redigeer en versend...
Die slag van Delvillebos in Julie 1916 roep verskillende herinneringe by die uwe op. Ek was lid van die SAUK se TV-verslagspan by die onthulling van die monument deur President PW Botha in 1984 by die slagveld in Frankryk, en het in die proses ‘n nagmerrie-dag en aand beleef. Om ons videomateriaal van die gebeure betyds vir die aand se uitsending te kon stuur, het ons ‘n redigeer- en satellietvoerbespreking by ‘n ateljee in Parys vir ses-uur die aand, sewe-uur Afrikaanse tyd, gedoen. Die onthulling was om twee-uur, en ons moes daarna 180 kilometer terug ry na Parys, redigeer en versend. Kollega Jan van Niekerk en ek het nie saam met die res van die mediagroep gereis nie, ‘n motor gehuur, en self Delvillebos toe gery sodat ons vroeg kon wegspring terug Parys toe. Ons produksie-regisseuse Ina Joubert sou vir ons by die agteljee wag. Die onthulling was op 7 Junie, en dit was een van daardie dae wat ek nooit sal vergeet nie. En nie net oor die indrukwekkende plek met sy atmosfeer en hartseer-herinneringe nie.
Ons kameraman, Robbie Klarenbeeck, het vir ons gewag, saam met die ander joernaliste, maar die president en sy groep is vertraag omdat hulle iewers verdwaal het, wat ons reeds moeilike skedule nog moeiliker gemaak het. Die uwe het vinnig ‘n kamera-stemverslag gedoen met aaneenlopende videoskote van die omgewing sodat redigering nie nodig was nie, en ons het vinnig vetrek. Ongelukkig onmiddellik tussen ander slagvelde, dosyne begraafplase met derduisende wit kruise, regimentele monumente, en boere op trekkers in hul landerye om die begraafplase, verdwaal. ‘n Padkaart met bietjie Engels en baie Frans het die uwe as die navigator nie veel gehelp nie, maar met Jan wat bestuur het, was ons uiteindelik op die Autoroute.
Hoe nader ons aan die Franse hoofstad gekom het, hoe swaarder het die verkeer geword. Ons kon ook min van die Franse aanwysings op die snelwegtekens verstaan. Daarbenewens was die motoriste ook kwaai intimiderend. Met klipharde radiovolumes en oop vensters, het hulle ons totaal geïgnoreer wanneer ons met flikkerligte aan van baan wou verwissel. By ‘n motorhawe langs die snelweg het ons brandstof ingegooi, ‘n kasset van Shakin’ Stevens gekoop, en die Franse in eie munt terugbetaal. Met Shaky se ruk-en-rol-musiek kliphard oopgedraai, het ons eenvoudig van baan verwissel wanneer nodig, en die Franse se vingertekens met dieselfde beantwoord. Ons het egter besef ons sou nooit betyds by die ateljee uitkom nie, by ‘n openbare telefoon vir Ina laat weet sy moet ‘n koerier lughawe toe stuur om die videoband ateljee toe te neem, en ons daar ontmoet vir ons vertrekvlug, want redigering was nie nodig nie. Met blote geluk het Jan reg voor die vertreksaal van die lughawe Charles de Gaulle van die snelweg afgedraai, geparkeer, die koerier by die deur gesien, die band oorhandig, wat vinnig weg is ateljee toe. Ina het later opgedaag met die goeie nuus dat die satellietvoer glad verloop het. Teen daardie tyd het ons reeds ons vlug na Wene verpas, ‘n vlug vir die volgende oggend bespreek, en na ons hotel vertrek. Daar het ons ontspan, dankbaar dat sake uiteindeilik goed verloop het. Totdat ek met ‘n skok besef het my aktetas is weg.
Jan en ek is terug lughawe toe op nog ‘n nagmerrierit. Soms met afritte van snelwee teen die verkeer op boontoe, met ‘n paniekgevoel omdat my paspoort, visums, kredietkaarte ens. in die tas was. By die lughawe was alles stil. Niemand in sig nie behalwe ‘n skoonmaker. Hy kon nie Engels verstaan nie, maar ons het verduidelik dat dit bars. Uiteindelik neem hy ons na ‘n kantoor toe. Daar, op die tafel, is my aktetas. Ongelooflik. Groot verligting en ‘n dankgebedjie. Terug hotel toe, waar ons teen middernag iets te ete bedel en Skotse water inneem vir die senuwees. Doodmoeg. Ons verslaap, kom eers vyf minute oor ses by die lughawe aan, nadat ons vliegtuig reeds vertrek het, kry gelukkig plek op ‘n latere vlug, sluit ons om 2-uur by die presidensiële groep aan, en begin werk aan daardie aand se satellietvoer. Nog ‘n dag van 14 op die reis deur 10 lande, 38 jaar gelede.
Ten slotte, basiese inligting oor die slag van Delvillebos. Die 1 Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade het in die loop van die Somme-offensief (1 Julie tot 18 November 1916) in die Eerste Wereldoorlog aan die slag by Delvillebos deelgeneem as deel die Skotse 9e Divisie wat die dorpie Longueval en Delvillebos op 14 Julie 1916 aangeval het. Op 15 Julie 1916, presies 106 jaar gelede, het die Suid-Afrikaners die bos ingeneem en was in ’n uitmergelende stryd met die Duitse magte gewikkel. Uiteindelik het die Suid-Afrikaners geweldige verliese gely: 121 offisiere en 2 032 manskappe het in dié slag gesneuwel. Slegs 29 offisiere en 751 soldate het dit oorleef. Die Eerste Wêreldoorlog was waarlik in elke opsig enorm. Nie net het dit tot die dood van nagenoeg tien miljoen soldate gelei nie, dit was tot in daardie stadium ook die omvangrykste oorlog waarby sowat 80 miljoen mense van verskeie lande betrek is. Boonop is nagenoeg 9 miljoen mense permanent vermink, 12 miljoen is ernstig gewond en byna 8- miljoen is krygsgevange geneem.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page

