Wat ‘n wonderlike naweek! Ek kan nie onthou wanneer laas ons soveel sportplesier oor een naweek ervaar het nie. Dit is weereens bewys dat niks op aarde mense oor kleur, politieke en ander grense bymekaar kan bring soos sport nie. Ons kon vergeet van die politieke dramas, korrupsie, swak dienslewering en internasionale krisisse. Suid-Afrika se swemprestasies by die Statebondspele, die uithalervertoning van die Proteas wat die T20-reeks teen Engeland beklink het, en die kersie op die koek, die Blitsbokke se vermorseling van die ander spanne in die spele se Sewesrugby-kompetisie.
Die Watergat was sowel Saterdag as Sondag tjok-en-blok vol gelukkige besoekers, onder hulle 15 swart werknemers van ‘n groot Johannesburgse maatskappy wat hier op ‘n gholftoer cum spanbou-oefening was, en Sondag hier kom rugby kyk het. Hulle was net so opgewonde soos die blanke kykers, het hul rugby ooglopend baie goed geken. Die swart besoekers en die blanke klante het mekaar spontaan omhels, rondgespring en gejuig toe die eindfluitjie omstreeks half-elf die aand blaas, en die Blitsbokke mekaar uitgeput en emosioneel omhels. Toe die span hul goue medaljes omhoog hou, het die hele St Michael’s seker die krete van blydskap gehoor.
Dit was iets om te ervaar. Dit het nog nooit vantevore in die Watergat gebeur nie. Daardie gevoel van euforiese geluk, genoegdoening, saamwees as Suid-Afrikaners en blydskap oor ‘n gemeenskaplike gebeurtenis kan geen geld koop nie. Sal dit nie wonderlik wees as ons so saam bly kan wees oor ‘n poilitieke gebeurtenis wat ons land se hele toekoms positief gaan verander nie? Ons het lekker saamgekuier tot middernag, oor alles nog wat gesels, ook oor die politieke situasie, en kon vriendelik en beskaafd verskil, hoewel ons oor talle dinge saamgestem het. Absoluut fantasties. Ongelukkig iets wat nie sommer weer sal gebeur nie. Tensy sport betrokke is, en die politici hul hande tuis hou. Die enigste nadeel van Sondag was die moeder van alle hoofpyne wat baie van hulle en ons Maandagoggend geteister het.
Ons loopstorie kom van Barend Bezuidenhout van Port Edward. ‘n Sterk man loop by ‘n groentewinkel in en vra vir ‘n halwe slaaikop. ‘Jammer meneer’, sê die assistent, ‘ons verkoop nie halwe slaaikoppe nie.’ Die man gryp ‘n slaaikop, skeur dit in twee en beweeg met die een helfte na die betaalpunt. Die assistent loop na die bestuurder en vertel hom wat gebeur het. ‘Hier is ‘n dom dr*l wat ‘n halwe slaaikop wil koop’, en toe sy omkyk, sien sy die groot man het alles gehoor wat sy gesê het. ‘En hierdie vriendelike sterk meneer hier wil die ander helfte koop’.
Die bestuurder is baie beindruk met haar omdat sy so vinnig gedink het. ‘n Paar dae later deel hy haar mee dat hy haar Gauteng toe wil stuur vir opleiding as ‘n bestuurder. ‘Gauteng toe? Nee wat meneer, my ma-hulle sê daar is net straatvroue en rugbyspelers in Gauteng.’ Die bestuurder vervies hom. ‘Vir jou inligting, daardie mooi vrou van my kom van Gauteng af!’ ‘O, is dit so?’ antwoord die assistent. ‘In watter posisie het sy gespeel?’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
