Johan Pretorius: Oudword is beslis nie vir ‘sissies’ nie
Die ouderdom wag vir ons almal. Vir party is dit nader as vir ander. Wanneer jy ‘n ou mens teëkom, onthou dit: jy sal ook van iemand anders se genade afhanklik wees.
Die uwe is beslis nie meer jonk nie en vat-vat so aan die tagtig. Hoewel ek geseënd is met algemene gesondheid, was daar oor die laaste jare daar allerhande skete wat my lewe versuur het soos ‘n galblaas wat verwyder moes word, ‘n diagnose van slaap-apnee wat meegebring het dat ek met ‘n masker moet slaap wat sorg dat ek normaal asemhaal en genoeg suurstof inkry. Die periodieke snorkery het ook verdwyn. Hoewel die hartfunksie nie verswak het nie, is ‘n monitor onder die vel in my borskas ingeplant wat seine na ‘n kardioloog toe stuur wanneer my hartklop versteur word deur ‘n periodieke onnodige impuls. Ek drink medikasie om die hartklop normaal te hou, dit werk goed, en ten spyte van bg., is daar geen ernstige gesondheidsklagtes nie.
Ek het die verouderingsproses lankal reeds aanvaar en daarmee vrede gemaak, ten spyte van van die ou gesegde ‘oud-word is nie vir sissies nie’. Enkele dae gelede het daar egter iets gebeur wat my herinner het aan ‘n uitspraak jare gelede deur die bekende omroeper en senior bestuurslid van die Afrikaanse Diens van die SAUK, en ‘n man met een van die mooiste uitsaaistemme wat ek in my lewe teëgekom het, Pieter de Bruyn. Tydens ‘n spanbou- en bestuursopleidingsessie van die SAUK het hy laat in die aand, nadat ons almal in die wingerd gaan kuier het, met ‘n moedelose stem sy lot bekla. Hy was toe al reeds oor die sestig, en het iets gesê wat in my geheue vasgesteek het. “Ek begin nou besef”, het hy meewarig gesê, “hoe ouer ‘n mens word, hoe f*kk*lder en f*kk*lder word jy”.
Almal het geskaterlag, veral ons jongeres, min wetend wat op ons wag en hoe waar daardie woorde was. Soos ek self uitgevind het toe ek vandeesweek my rekenaarkontrak met ‘n selfoonverskaffer wou opgradeer. Alles het goed gegaan totdat my vingerafdruk geregistreer moes word om te bewys ek is wie ek is. Ek het albei duime verskeie kere op die masjientjie geplaas, maar sonder sukses. Niks het geregistreer nie, want daar was niks om te registreer nie. Nie een van my twee duime het enioge vinger-afdrukke oor nie. Glad, met net plooitjies. Vyf jaar gelede was daar reeds ‘n gesukkel om ‘n behoorlike vinger-afdrukregistrasie te kry, maar uiteindelik kon genoeg bewyse gekry word dat ek nog bestaan. Toe die selfoonverskaffer se werknemer aan my verduidelik ek moes nou deur ‘n proses met die bedrog-waghondorganisie deurloop, het ek besef hoe ver my verouderingspad reeds gevorder het. En toe die organisasie my die volgende dag allerhande vrae vra, my ‘n ‘selfie’ wou laat neem met my ID-boek, en my meedeel dat die goedkeuring twee tot drie dae sal neem, het ek die volle implikasie van Pieter de Bruyn se woorde besef. Net daar het ek besluit ‘no way’, en hulle meegedeel ek is nie lus daarvoor nie. Die kool, oftewel ‘n nuwe rekenaar, is die sous nie werd nie. Ek het daarna oë toegeknyp en ‘n rekenaar by ‘n betroubare handelaar gekoop, in die proses myself duisende rande aan rente bespaar, en op ‘n manier bewys ek is nog nie aan die einde van die pad wat Pieter de Bruyn aangedui het nie. Iets wat ek dieselfde aand met ‘n alkoholiese verversing gevier het.
Nietemin, die besef het weereens deurgedring indien ek die lewe hou, en eendag ‘n hele paar ‘myle op die klok’ het, sal ek graag wil hê dat die volgende, wat ek op die internet raakgeloop het, vir sowel vroulief as myself sal geld: “Geseënd is hulle wat altyd verstaan. As ek bewend moet tas of struikelend gaan. Wat weet dat my ore met moeite kan hoor. Dat ek maklik die draad van die storie verloor. Geseënd is hulle wat self sommer weet. Dat my oë al swak is en ek maklik vergeet. Geseënd is hulle wat kastig nie sien. Dat ek koffie gemors het toe hulle my bedien. Geseënd die wat lus het om rustig te wag. Terwyl ek vertel van my eensame dag; Wat nooit sal verwyt of humeur sal verloor Al vertel ek dieselfde ou storie weer oor. Geseënd wie ook al deur die newels kan dring. Om gisters weer helder na vore te bring. Geseënd as hulle my op my dag laat voel. Dat hulle liefde en agting opreg word bedoel, Wat verstaan as my kragte my weifelend laat vra: “Hoekom is my kruis soms so swaar om te dra? ”Wat die las help verlig met hul liefde vir my. Op die skof wat my eindelik Huis toe sal lei.”
Die ouderdom wag vir ons almal. Vir party is dit nader as vir ander. Wanneer jy ‘n ou mens teëkom, onthou dit: jy sal ook van iemand anders se genade afhanklik wees.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
