Stiltetyd: ‘n Tweede kans?
Wanneer koning Dawid in Psalm 51 voor God kom staan is dit iemand wat besef dat hy feilbaar is.
Sou jy ook graag ’n tweede kans in die lewe wil ontvang, die geleentheid kry om van vooraf te begin? Om dalk reg te maak waar jy verbrou het? Dit is nie altyd so maklik nie. Soms kry mens die idee dat ons in ’n ongenadige wêreld leef.
Die beginsel van hond eet hond en die wet van ’n oog vir oog en ’n tand vir ’n tand lyk of dit voorop staan. Nie net in die magsentrums van die wêreld nie, maar mens ervaar dit ook in die persoonlike ruimtes waar jy saam met ander en natuurlik jouself leef.
Tog kan ons almal getuig van tye waar ons deur ander met deernis en begrip hanteer is, waar ons ’n genadige medemens raakgeloop het. Alle mense is in Christus vrygespreek van die oordeel van die Here, maar alle Christene is ook feilbare mense met voete van klei.
Dit mag gebeur dat ons ontken dat ons feilbaar is, dat ons dinge sê of doen wat ander verwond. Iemand het gesê dat om ’n Christen te wees, om die reiniging van ons sondes deur die bloed van God se offerlam Jesus Christus te ervaar, beteken om elke dag van vooraf te begin.
Wanneer koning Dawid in Psalm 51 voor God kom staan is dit iemand wat besef dat hy feilbaar is. Hy kan niks anders doen as om God om genade te pleit nie. Hy vra vir die geleentheid om nuut te begin, om ’n tweede kans in die lewe te ontvang. Hy verwys spesifiek na die insident rondom Batseba en die pyn wat daarmee saamgegaan het. As Dawid dan voor God verskyn, wend hy hom tot God en beroep hy hom op God se barmhartigheid.
Die woord in die oorspronklike teks vir barmhartigheid kan ook in verband met die baarmoeder van ’n vrou gebring word. Dit gee die betekenis deur van die gevoel wat ‘n ma vir haar ongebore kind het. Dawid speel nie met woorde nie. Dit is ’n kreet om ontferming en ’n nuwe begin. Ons weet uit die res van die Skrif dat God dit aan hom gegun het. By die kruis het Jesus Sy lewe vir jou gegee dat jy ook voor kan begin.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
