JOHAN PRETORIUS: Plaasmoorde – Wanneer gaan daadwerklike optrede kom?
Ek voel na die indringer wat ek is toe ek die smal paadjie na die opstal afskommel.
Tot dusver het die uwe plaasmoorde as ‘n kommerwekkende en ernstige saak beskou, maar wel met ‘n gedagte in die agterkop dat alle moorde op plase nie gepleeg word omdat boere per se geteiken word nie, maar wel die slagoffers is van misdaad omdat hulle sagte teikens is of weens ‘n grief of griewe van hul plaaswerkers. Die afgelope tyd het ek van sienswyse begin verander agv. verskeie moorde op plase, in die onlangse verlede in Mpumalanga.
Soos in die verlede oor ander onderwerpe, het ek op Facebook afgekom op nog ‘n treffende rubriek van die bekende joernalis en skrywer, Dana Snyman. Hy is myns insiens enig in sy soort in Suid-Afrika, met sowel ‘n buitengewone vermoë om dinge waar te neem, as om hierdie waarnemings in eenvoudige taal in gevoelvolle vertellings te omskep. Dana het die volgende geskryf na sy besoek aan Mpumalanga:
“Donderdagoggend klim ek in die bakkie en ry Waterval Boven toe waar die eerste een was. Op Waterval Boven, eens ’n Spoorwegdorp, rangeer lankal nie meer treine nie. Jirder, meneer, wat gaan aan? vra ’n man voor die poskantoor en beduie vir my die pad Slaaihoek toe. Hy het vir Gideon Swart geken. Gideon is die eerste van drie boere wat in die laaste twee weke vermoor op hul plase in Mpumalanga. Die pad Slaaihoek toe is moontlik laas geskraap kort nadat Madiba in Francois Pienaar se Springbok-trui op Ellispark uitgestap het.
Ek voel na die indringer wat ek is toe ek die smal paadjie na die opstal afskommel. Die opskrifte en berigte in die koerant het vir my te veel geword. Gideon is met ’n skroewedraaier gesteek. Dood. ’n Paar dae ná hom is dr. Jesse Coleman, ’n veearts, op sy plaas naby Delmas vasgebind en geskiet. Dood. Etienne du Toit, die derde boer, is met ’n ysterpyp geslaan. Dood. Die opstal is omhein en by die hek blaf ’n groot hond. Ruben, Gideon se broer, kom maak oop. Gee hy om om te vertel? vra ek. Hy kan nie eintlik vertel nie, sê hy met rooi oë sonder om dit te sê. Gideon het hier naby gewoon, ’n eenkantman wat nooit getroud is nie.
Camilla, Ruben se vrou, stap nader. Hulle het bekommerd geraak omdat hulle vir twee dae nie van Gideon gehoor het nie, toe ry hulle soontoe, toe lê Gideon daar op die grasperk en Gideon se hondjie, ’n Yorkie, lê by Gideon. Gideon se selfoon, rekenaar en Nissan 1400-bakkie is gesteel. Die hondjie is nou hier by hulle, maar die hondjie wil nie eet nie en nie meer blaf nie. Wat is die hondjie se naam? Laika, sê Camilla. Sy weet nie of Gideon Laika vernoem het na Laika, die hond wat in 1957 deur die Russe in ’n vuurpyl die ruimte in gelanseer het nie – die eerste lewende wese in die buiteste ruim. Dit kan maklik wees, sê Camilla. Gideon was ’n belese man.
Dis daardie Nissan 1400 wat van Gideon ’n teiken gemaak het, sê Gideon. Daai ou bakkietjies is baie gewild. ’n Donserige veertjie het by my bakkie se venster ingewaai. Ek gee dit vir Camilla en sê dis ’n engel en ons omhels mekaar met die oë en Slaaihoek verdwyn in my truspieëltjie. Daar was nie ’n begrafnisdiens vir Gideon nie. Sy as sal iewers gestrooi word. Ek is Laika in Sputnik 2 op pad na Waterval Boven wat nou Emgwenya is, in die land waar ’n tweedehandse 1400-bakkie mense laat moor. In die Moederkerk van my hart hou ek ’n roudiens vir Gideon en al die vermoordes wat in die opskrifte in die koerant, maar ek het te afgestomp geraak om te huil. By die winkel naby die poskantoor hou ek stil. ’n Man stap nader met bedelhande. “Ek’t niks balans nie,” sê hy en hou ’n vuilgevatte Capitec-kitsbankstorie dat ek kan sien. Ek druk my hand in my sak en vat na my beursie. Ek het my balans ook verloor. Langs die winkel is die Together Funeral Palour. “Together in our grief,” staan in groot letters op die venster. Iewers ver blaf ’n hond.”
Dana sê in ‘n voetnota Laika het intussen ‘n ander huis gekry, en hy is laat weet sy eet, blaf en knor weer. Die Nissan 1400-bakkie is teen daardie tyd nog nie teruggekry nie. Dankie, weereens Dana, vir ‘n puik stukkie joernalistiek.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
