Wouter se Watergat
Die skok was egter die nuus dat die alternator uitgebrand het, en dat die herstelkoste net duskant sesduisend rand sou wees.
Hierdie onderwerp is in die Watergat reeds holrug gery. Ek noem dit doelbewus nie gereeld nie want ons almal weet daarvan en watter daaglikse irritasie dit is. Om nie van die skade aan ons ekonomie te praat nie. Beurtkrag. Die rede waarom ek dit nou noem, is ons krag-opwekker het die gees gegee. Gelukkig nie toe ons baie besig was nie, en ons kon oor die weg kom deur net sekere disse te bedien en ons gasstowe te gebruik.
Die skok was egter die nuus dat die alternator uitgebrand het, en dat die herstelkoste net duskant sesduisend rand sou wees. Die opwekker is reeds 10 jaar oud, ek het so vier jaar gelede die enjin laat ‘opdoen’ teen ‘n koste van vyfduisend rand, en dit maak sin om nou liewer ‘n nuwe een te koop. Totdat die prys ter sake is, dan verdwyn die sinmaak soos mis voor die son. Veertienduisend rand vir ‘n opwekker wat aan ons behoeftes voldoen. Wat kon ek doen? Met beurtkrag wat nog jare met ons gaan wees, het ek nie ‘n keuse gehad nie. ‘n Besigheid soos myne kan onmoontlik oorleef sonder ‘n kragopwekker. Wat van die kleiner ondernemings wat dit nie kan beskostig nie? ‘n Omskakelaar, of ‘ínverter’, is ideaal vir huishoudings wat net enkele implemente soos ‘n TV, ‘n rekenaar of die internet aan die gang wil hou. Vir besige klein ondernemings is dit ontoereikend. Hoeveel geld verloor hulle nie. Landwyd? Biljoene rande. Hoe ons gaan oorleef met al die ander probleme om ons, weet nugter.
Die rugby en krieket-aksie trek gelukkig ons aandag van al die ellendes af. Ons Sharks het hul ‘Mojo’ terug, net jammer verlede week se wedstryd en dié van die Bulle teen oorsese spanne is gekanselleer. Hoe soveel spelers tegelyk ‘n maag-aandoening kan opdoen, is merkwaardig. Volgens berigte was hulle ook nie naby die Durbanse see nie. Hotelkos? By twee verskillende hotelle? Dalk sal meer inligting bekend word voor hierdie rubriek gepubliseer is. Hier kom egter moeilikheid want SA-rugby skop vas oor die afstel van die wedstryde. Ewenwel, die Wêreldbeker-krieket verskaf lekker kykstof.
Ons glimlag vir die week kom van ‘n gereelde besoeker uit Johannesburg, Janneman Bezuidenhout. ‘n Onervare prediker moes ‘n begrafnisdiens by ‘n armoedige begraafplaas hou vir ‘n behoeftige man sonder familie of vriende. Omdat hy nie geweet het waar die begraafplaas was nie, het hy verskeie verkeerde draaie gemaak en verdwaal. Toe hy uiteindelik ‘n uur laat opdaag, was die lykswa nêrens in sig nie, die laaigraaf was langs die oop gat en die werkers het onder ‘n boom gesit en middagete eet. Die ywerige jong predikant het na die oop graf gegaan en die kluisdeksel gevind. Omdat hy skuldig was weens sy traagheid, het hy ‘n passievolle en lang diens gepreek en die oorledene in styl na die groot ooste gestuur. Toe hy terugkeer na sy motor, hoor hy hoe een van die werkers vir die ander sê: ‘Ek verskaf al twintig jaar septiese tenks en ek het nog nooit so iets gesien nie.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
