Stiltetyd: Beskermende sorg
Uiteindelik het die Psalmis nie ontvlug uit die moeilike situasie waarin hy hom bevind nie.
“Het ek maar vlerke gehad soos ’n duif, ek sou wegvlieg en ’n tuiste vind.” So lui die woorde van Psalm 55:7. Ontwrigtende tye, druk tye, soos wat ons in Suid-Afrika tans beleef met stakings, beurtkrag, korrupsie, het ’n manier om mense te laat voel jy wil liewer wegkom van die situasie af. Persoonlike leed of teenslae het ook daardie uitwerking op mens. Jy sou dalk in die woestyn kon oornag, as dit net sou beteken dat jy kon wegvlug van alles af. So erg kan die druk raak. Voel jy soms ook om net weg te hardloop van alles af? Dan verkeer jy in goeie geselskap, ten minste die van koning Dawid van die Bybel. Dawid se se vriende het hom die rug gekeer en mense was teen hom. Kan ’n mense regtig wegkom van alles af? Sal jy ooit ’n plek hier op aarde vind waar jy gevrywaar sal wees van stryd?
Dit lyk nie of die Psalmis dit voorsien nie. Dit neem niks weg van die feit dat hy sy emosies voor God bring in gebed nie. Hy sê dat hy verward is, dat sy hart ineen krimp in sy binneste, dat doodsangs hom oorval het. Vrees en bewing het hom oorweldig, ’n rilling het deur sy liggaam gegaan. Vrees is dikwels ’n emosionele reaksie in die aangesig van ’n bedreiging. Soms voel mense dat hulle sondig as hulle hul emosies uitspreek. Hulle dink dat hulle daarmee hulself in ’n hoek in praat. Emosies is op sigself nie verkeerd nie dis normaal om kwaad te voel, of bly, of opgewonde, of teleurgestel, of om soos die Psalmis weg te vlieg van alles af met die vlerke van ’n duif, by wyse van spreke.
Uiteindelik het die Psalmis nie ontvlug uit die moeilike situasie waarin hy hom bevind nie. Ook gelowiges moet deur moeilike tye gaan. Die Psalmis het in sulke tye sy toevlug na God geneem in die gebed. Voel jy soms of die lewe jou druk? In plaas daarvan om na die woestyn toe weg te vlug, vlug die digter na die Here. Wie hom van God wegkeer, moet self die vernederende gevolge dra. Maar hy wat die Here dien, kan reken op sy beskermende sorg.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
