South Coast Fever

Stiltetyd: Uitdagings

Ons kan nie uit die Psalm agterkom wat die uitdagings behels het nie.

Die lewe is vol uitdagings wat mens nie kan vermy nie. Dit kan die vorm aanneem van krisisse by die werk. Dit kan die uitdaging wees om met die maand se begroting deur te kom.

Mens koop deesdae baie minder met dieselfde geld. Van die mees algemene uitdagings in die lewe wat mense moet hanteer, sluit dinge in soos siekte, aftrede, verandering by die werkplek, om ouer te word, om vriende te maak in ’n nuwe omgewing, om skool te verlaat.

Vanuit die gedragswetenskappe word allerlei raad gegee soos om in jouself te glo, om inspirasie by ander te vind, ensomeer. Psalm 62 vertel vir ons hoe Dawid as gelowige sy eie uitdagings hanteer het. Ons kan nie uit die Psalm agterkom wat die uitdagings behels het nie.

Hy het egter met ’n afwaartse spiraal van onreg en geweld te make gehad. Die wêreld waarin hy hom bevind het, was ’n onrustige plek, soos ons almal ook maar van tyd tot tyd ervaar. Hy ervaar dat daar mense is wat hom wil ondergrawe. Met hulle mond seën hulle maar hulle smee allerlei gemene planne teen hom.

Te midde van die uitdagings van die lewe, raak hy diep bewus van sy en ander se eie sterflikheid sowel as die onbetroubaarheid van mense. Wanneer hy dink aan mense of teenstanders wat hom uitdaag, weeg hy hulle en bevind dat hul teenstand nie opweeg teen die liefde van die Here God nie.

In die Nuwe Testament het die apostel Paulus tot dieselfde gevolgtrekking gekom toe hy verklaar het dat niks ons van die liefde van God in Christus kan skei nie. Hy vind by God sy toevlug en in Hom vind hy rus, al sou daar nog uitdagings in die lewe wees wat hy moet hanteer.

Dis ’n stilte te midde van onrus. As dit voel of die aarde wankel het gelowiges ’n Rots onder hul voete. Ja, ons rus te midde van laste en uitdagings wat soms voel soos ’n muur wat om ons omval, om die Psalmis se metafoor te gebruik.
Eien vandag die volgende belofte vir jouself toe en oorhandig jou uitdagings aan die Here: “Net by God vind ons rus, van Hom kom my verlossing.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button