Die woordjie, versmag, roep allerlei beelde by mens op. Dit laat jou dink aan iemand wat smag na uitkoms uit ’n situasie van nood. Dit kan dui op ’n diep en intense behoefte wat nie onder woorde gebring kan word nie. Dalk ’n versugting in die nag. In Psalm 63 bid die Psalmis: “God, U is my God, na U soek ek. My siel dors na U. My liggaam smag na U in ’n droë, uitgeputte land sonder water.
My diepste wese is aan u verknog. Hierdie is nie, maar ’n smagting na korttermyn bevrediging nie. Dit is ’n verlange, ’n versmagting, ’n diep behoefte na ’n naby verhouding met die Here. Psalm 63 laat mens nogal baie aan ‘n liefdeslied dink. Hoe dikwels luister ons nie na romantiese musiek nie? Liedere waarin gesing word van die verlange na die geliefde en waarin die geliefde besing word.
Dis hierdie soort liedere wat soms mense se hartsnoere raak. Mense raak sommer emosioneel as hulle daarna luister. Nou is dit so dat baie van hierdie liefdesliedere oppervlakkig is, maar daar is darem ook pragtige liefdesliedere. Liedere wat die hartsnare roer. Die Psalmis verlang na die Here omdat die liefde van God iets besonders is. U troue liefde is meer werd as die lewe, sê hy. Hy is die God van liefde. Hy het in liefde die wêreld en die mens geskep. In liefde onderhou die Here sy skepping. Hy hoor as die mens na Hom roep. Hy kom na ons toe.
Hy het ons so liefgehad dat Hy sy Eniggebore Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Ten spyte van al ons swakhede en ons sonde het Hy ons lief, steek Hy Sy helpende hand na ons toe uit. Al het ons al so baie kere sy liefde verwerp en van Hom weggeloop en ander dinge bo Hom gestel, het Hy ons lief. Sy liefde is groter as die heelal. Groter as ons begrip. Onbegrensd. Juis omdat Hy ons liefhet, daarom verlang ons na Hom.
Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ken jy ook hierdie verlange na die Here?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
