South Coast Fever

Wouter se Watergat

My eie gevoel is daar is groot woelinge agter die skerms wat nog bekend sal word.

Die Watergat bestaan reeds meer as 20 jaar, en ek kan sonder vrees vir teenspraak verklaar verlede naweek was die swartste sportnaweek in die kuierplek se geskiedenis. Die rugby-uitslag teen die Iere was ‘n uiterste frustrasie nie noodwendig omdat die Bokke verloor het nie, maar verskeie faktore wat ‘n rol in die aanloop tot en in die wedstryd gespeel het.

Spankeuses wat nie sin gemaak het nie. Geen spesialis-losskakel of stelskopper nie? Sinnelose besluite op die veld? Soos skop in die agterlyn met ‘n man of twee oor? Skop vir die kantlyn met net ‘n paar minute oor en gee besit weg? Pottie se teorie is die spelers, en uiteraard die kaptein, word nie toegelaat om hul eie besluite op die veld te neem nie. Selfs nie oor ‘n strafskop of hoekskop nie. Wanneer die besluite geneem moet word, verskyn daar skielik ‘n waterdraer of noodhulpman met ‘n teken of ‘n boodskap.

Is Rassie en Jacques te bang om terug te sit en die spelers hulle eie besluite te laat neem? Die oordeel oor hulle gaan verdoemend wees indien Bokke in die Wêreld-toernooi sulke dinge aanvang. Die volgende treurmare was die Blitsbokke. Hulle is nie ‘n skaduwee van die ge-oliede masjien wat hulle vroeër vanjaar was nie. Trouens, dis pynigend om die transformasie te sien. Die nuwe afrigters sal baie gou hier iets moet doen.

Die kersieop die koek was egter ons T20-krieketspan se nederlaag teen Nederland. Sondag het ons hier gesit en ons verbeel dis Gekkedag. Hier het mense ingekom om na die herhaling van die wedstryd, wat vroeg Sondagoggend gespeel is, te kom kyk sonder om nuus te luister. Hulle wou ons nie glo toe ons hulle meedeel die Proteas het weer ‘gechoke’ nie.

Hoe is dit moontlik dat ‘n span met soveel talent, wat so goed gedoen het tot op hierdie punt, so ‘n inploffing ervaar? Bavuma? Te min toewyding van die ander spelers? KSA se patetiese bestuur? Swak afrigting? Die lys is lank. My eie gevoel is daar is groot woelinge agter die skerms wat nog bekend sal word. Ewenwel, dit het ons donkerste sportnaweek verseël. Met al die ander wroeginge oor wat in ons land gebeur, het Suid-Afrika nie sulke dinge nodig nie.

Ons loopstorie: ‘n Fris Vrystaatse boer besoek sy gereelde watergat. Tot sy verbasing kry hy ‘n klein Japanner op sy stoel. ‘Kortgat, weg is jy, ek sit hier’! Die Japanner vlieg soos blits op en slaan die boer katswink. Nadat hy herstel het, vra die boer ‘wat de duiwel was dit?’ ‘Karate van my land’, kom die antwoord van die Japanner, wat omdraai en uitloop. Die volgende dag kry die boer die Japanner weer op sy stoel. Weer probeer hy die mannetjie verjaag, en weer slaan die Japanner die boer flenters. ‘Nou wat was dit?’ ‘Kungfu Zat karate van my land, Japan’, kom die antwoord.

Die mannetjie stap weer ewe kordaat uit die kroeg uit. Die volgende dag kom die boer terug. Die Japanner is weer in sy stoel. Hy stap nader, en slaan die mannetjie disnis met een hou. Toe hy bykom, vra hy ‘wat was dit?’ Die boer glimlag breed. ‘Dit, my vriend, was die wiel-moersleutel van ‘n 2.8 liter-Isuzu-tubodieselbakkie. Oók van jou land, Japan.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button