South Coast Fever

Wouter se Watergat

Daar moet diskresie wees want Saterdag se voorval het die toeskouers weereens van ‘n nog beter wedstryd beroof.

Novembermaand is beslis nie ons watergatmense se gunstelingmaand nie. Vandat ons hier op die Suidkus aangeland het, 25 jaar gelede, was November die maand van reën, reën, reën en nogmaals reën. Om nie van die algemene slegte weer te praat nie. Dis natuurlik normaal, maar elke jaar hoop ons dit duur nie tot na die helfte van Desember nie. Dis dan vir ondernemings soos ons s’n ‘n properse ramp, want sodra vakansiehgangers hier teen 20 Desember nog nie son gesien het nie, loer hulle vinnig hier in en lig ons in hulle gaan huis toe. Gewoonlik is daar dan nog ‘n week se potensiële inkomste daarmee heen. Ons hou duim vas dis nie vanjaar die geval nie.

Intussen is dit redelik stil, soos Novembermaande gewoonlik is, en ons gebruik die geleentheid om die Watergat behoorlik skoon te maak en te poets vir die vakansietyd. Die afgelope week was dit natuurlik weer gebeure op die sportveld wat ons besig gehou het. Laat verlede Saterdagaand het ‘n groepie bittereinders sit en kyk hoe die Springbokspan uiteindelik behoorlik vasbyt en ‘n skittervertoning lewer, ten spyte daarvan dat hulle teen Frankryk verloor het. Skielik skop drie spelers al die pogings pale toe oor, nogal nonchalant soos Faf de Klerk, en speel ons agterlyn lekker hardloop-rugby. Voeg daarby die manjifieke poging van ons voorspelers, veral sonder Pieter-Steph du Toit, en dis nogal ‘n merkwaardige vertoning.

Die kommentare hier oor die rooikaart van Du Toit sal ek liewer nie herhaal nie, maar dit was baie, baie ongelukkig. G’n wonder nie hy was in trane. Hy is van agter af vorentoe gestoot, sy kop het met dié van ‘n teenstander kontak gemaak, en skeidsregter Wayne Barnes kon nie anders nie. Nietemin, daar moet weer na hierdie reël gekyk word. Daar moet diskresie wees want Saterdag se voorval het die toeskouers weereens van ‘n nog beter wedstryd beroof. Gelukkig het die Franse ook ‘n rooikaart gekry, heel geregverdig. Die ander Barnes-blaps was die toeken van die Franse se laaste drie. ‘n Dubbele beweging vorentoe was ooglopend, maar blykbaar het hy en die televisie-skeidsregter verbinding met mekaar verloor. Onverskoonbaar, want dit het ons weereens van ‘n oorwinning beroof. Nietemin, Barnes het andersins goed gevaar, en die Bokke kan hul koppe hoog hou. Hoop net nie Rassie is weer in die moeilikheid omdat hy die skeidsregter-blapse op die digtale media uitgewys het nie.

Ons sluit af met twee Kapenaars in die skeihof. Die regter moet besluit wie toesig van die minderjarige kind moet kry. Die regter vra vir Meraai: “Meraai, gee vir my jou redes hoekom jy toesig moet kry?” Meraai antwoord: “Djou honor, ek net nege maande aan die kind gedra en deur al die labourpains gegaan met die geboorte. Dit gee my die reg om toesig te kry.” Die regter draai na Gatiep en vra: “Gatiep, sê vir my, gee my jou redes hoekom jy toesig moet kry?”Gatiep antwoord: “Djou honour, as ek ‘n R5,00 coin in ‘n Coke masjien gooi en hy gooi ‘n blikkie coke onder uit, is daai blikke myne of die masjien s’n??”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button