Stiltetyd: Lofsange
Loof Hom vir die voorreg om Hom deur Jesus Christus te ken as ons Vader. Loof die Here!
“Aan U kom ’n lofsang toe, o God wat in Sion is.” So lui die woorde van Psalm 65. Die Psalm is ‘n lofsang. Nou weet ek nie hoe die jaar sover vir jou verloop het nie. Dalk het jy rede om te kla oor baie dinge. Dalk is daar rede om te jubel. Hoe ook al, miskien is dit nodig dat ons in ons tyd meer lofliedere en minder klaagliedere sing. Erkentlike mense, mense wat van genadebrood leef, het rede om God te loof en dankbaar te wees. God laat storms bedaar, Hy sorg dat die reën op goeies en slegtes val. Die aarde lewer sy oes. Mense kan eet en drink en aantrek. Mens kan egter talle aardse seëninge geniet en steeds diep ongelukkig wees.
Daar is ‘n verskil tussen sukses en `goed gaan’. Miskien het dit tyd geword dat ons ons prioriteite in heroorweging neem. Psalm 65 sê dit gaan goed met die mens wat in ‘n lewende verhouding met die lewende Here leef. Wat sy sondes bely en vergiffenis ontvang. Dit gaan goed met die mens wat die hand van die Here kan raaksien in hierdie lewe en wat om ons aangaan. Daarvan sing hy. Daarom sentreer hierdie lofpsalm. Die goeie dinge in die lewe lê in ‘n innige geloofsverhouding met die Here. Hiersonder kan die lewe nie sinvol en mooi en goed wees nie. Al loop alles skeef en stort alles in duie, gaan dit goed met die mens wat die Here ken en aanbid.
Psalm 65 roep ons op om die Here te loof. Sing van dankbaarheid en blydskap oor al die goeie dinge waarmee die Here ons elke dag oorlaai. Loof Hom vir die feit dat Christus jou losgekoop het met Sy bloed. Loof Hom omdat ons ons sonde kan bely. Loof Hom omdat Hy ons sondes vergewe. Loof Hom vir die reën en die vol riviere; die groen weivelde. Loof hom vir die huppelende diere. Loof Hom vir die bome en blomme. Loof Hom omdat Hy, die Skepper elke dag so wonderlik skep. Loof Hom omdat dit goed gaan met elke gelowige. Loof Hom vir die voorreg om Hom deur Jesus Christus te ken as ons Vader. Loof die Here!
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
