Wouter se Watergat
Ek weet ek is nou op ‘n sensitiewe terrein, maar bg. opmerking van my is gegrond op interaksie met besoekers hier in die Watergat die afgelope twee weke.
Ons Suid-Afrikaners moet uniek wees as ‘n nasie. Of verwys ek nou net na die blankes? Hoe is dit moontlik dat ons op verskeie vlakke van die samelewing, of dit nou politiek, sport of godsdiens is, ons mense as helde aanhang, ongeag van wat hulle doen, kyk ons verby hul verkeerde aksies en foute, en bly hulle steun, ongeag?
Ek weet ek is nou op ‘n sensitiewe terrein, maar bg. opmerking van my is gegrond op interaksie met besoekers hier in die Watergat die afgelope twee weke. Ek verwys na Rassie Erasmus, ons rugbyhoof. Hy is ‘n uiters bekwame, charismatiese man met ‘n briljante rugbybrein, en het ‘n merkwaardige gawe om spelers saam te snoer in spanne wat uitstekend vaar in die kompetisies waarin hulle ookal deelneem. Dink maar wat het hy vermag met die destydse Cats as speler en hulp-afrigter, die WP, die Cheetas, Munster en nou die Springbokke.
Hy het die Wêreldbekerveldtog van die Springbokke in 2019 meesterlik bestuur, en die hele land agter hom verenig. Intussen het die Springbokke met die aanloop tot 2022 deur ‘n klompie knikke beweeg, onder meer sy kritiek by wyse van ‘n uurlange video op die manier waarop skeidsregter Nic Berry die wedstryd tussen sy span en en die eerste wedstryd teen die Britse Leeus hanteer het. Sowel Oom Pottie as ek was saam met die ander derduisende Springbok -ondersteuners bankvas agter hom. Hy het die tralies van die internasionale rugbybase ‘gerattle’, is amper ‘n jaar geskors, maar hy het sy punt gemaak. In die proses is daar onvermydelik ‘n sterk negatiewe gevoel teen Suid-Afrika veroorsaak, maar dit was bestuurbaar.
Nou het Rassie Wayne Barnes, seker die beste skeidsregter ter wêreld aangevat oor sy hantering van die onlangse wedstryd teen Frankryk. Toe ek dit hoor, het ek vir Pottie gesê hier kom moeilikheid. Ons albei kon nie verstaan waarom hy dit weer gedoen het nie pleks van om ander kanale te volg, hoe futiel dit ookal soms lyk. Hier in die Watergat steun amper 80% van die besoekers hom nog steeds, en wil niks verkeerd van hom hoor nie. Ek is egter bevrees Rassie se oordeel het hom gruwelik in die steek gelaat. Hy is weer geskors, en die SA rugbybase wou hom aanvanklik terugroep Suid-Afrika toe. Hy het baie van sy ondersteuners teleurgestel en homself geïsoleer. Dis asof hy wil hê daar moet teen hom opgetree word. Wat van die Wêreldbekertoernooi? Moet Jacques Nienaber dit alleen deursien?
Ons loopstorie kom uit die verlede: ‘n Regering kondig aan dat enige gesin wat vyf kinders het, onmiddellik ‘n inkomsteverhoging van R5 000 sal ontvang. ‘n Inwoner hoor daarvan, en sê vir sy vrou: ‘Dis mos oraait, my darling. Nou kan ek jou vertel van daai laaitie wat ek het by daai girl in Springs. Ek sal hom gaan haal sodat hy hier by ons saam met ons vier laaities kan kom bly sodat ek kan qualify’. Die volgende dag kom hy by die huis, en vra sy vrou: ‘Waar’s die ander drie kinders?’ Sy vrou haak af: ‘Jy’s nie die enigste wat die nuus gehoor het nie. Hulle pa’s het hulle ook kom haal!’.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
