South Coast Fever

Suid-Afrika se verpleegdienste: ‘n Reuse ramp dreig

Die grootste oorsaak van die groeiende verpleegtekort is bevolkingsgroei, terwyl daar jaarliks minder verpleegkundiges opgelei word as wat aftree.

Asof die land se ander ernstige probleme nie genoeg is nie, staar nog ‘n ramp ons in die gesig. ‘n Tekort aan verpleegkundiges wat gaan meebring dat talle van Suid-Afrika se staatshospitale teen 2030 gaan leeg staan of deur plakkers bewoon sal word. Selfs onmiddellike en drastiese ingryping, waarvan daar nog geen sprake is nie, kan net die omvang van die ramp beperk.

Dit klink ongelooflik erg, maar Mari Hudson skryf in die aanlyn-publikasie Vrye Weekblad dat van die hospitale wat dan nog in gebruik sal wees, sal voortgaan met donker sale en ongebruikte beddens. Privaat-hospitale, wat teen daardie tyd nog nie deur ‘n mislukkende nasionale gesondheidversekeringstelsel (NGV) verswelg is nie, sal onder selfs groter druk wees, met geen kans op uitbreiding nie. Die onvermydelike werklikheid is dat Suid-Afrika afstuur op ’n tekort aan tussen 131 000 en 162 000 verpleegkundiges binne die volgende agt jaar. Die grootste tekort is aan geregistreerde verpleegkundiges, dit wil sê die saalsusters en matrones met vierjaar-graadopleiding of driejaar-diploma-opleiding wat verloskunde insluit, wat verder kan spesialiseer en wat maroen epoulette dra. Dié groep staan tans as professionele en algemene verpleegkundiges bekend, en dis hier waar die krisis die grootste is, maan die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) in ’n volledige verslag getiteld “The Future of Nursing Workforce Planning Final Report”.

Hudson wys daarop dié verslag is reeds in Maart 2020 uitgereik, maar het te midde van Covid-19 en ander nasionale krisisse weinig aandag getrek, en nog minder is daaraan gedoen. Met so ’n enorme tekort aan verpleegkundiges, wat die ruggraat van gesondheidsdienste in enige land vorm, sal die staat se gesondheidsdienste binne agt jaar ineenstort, waarsku die verslag. Hudson berig die tekort aan verpleegkundiges is reeds kritiek: Volgens die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, kan meer as 10 800 vakante poste in staatshospitale tans nie gevul word nie. En van alle vakante poste vir geregistreerde verpleegkundiges is gemiddeld meer as 40% in die staatsektor nie gevul nie. Wat Phaahla nié gesê het nie, is dat die werklike aantal vakante poste vir alle verpleegkategorieë tussen 29 000 en 37 000 is, waarvan 16 000 tot 20 000 vakante poste vir verpleegsusters is. Hy het ook nie daarop gewys dat selfs as die vakante poste gevul sou word, dit steeds nie naastenby sou voldoen aan die behoefte óf neerkom op ’n veilige ratio tussen verpleegsusters en pasiënte nie. Hy het ook nie gesê dat die werklike gaping tussen beskikbare verpleegposte en die werklike behoefte aan poste reeds twee jaar gelede tussen 26 000 en 62 000 was nie, soos die Hasa-verslag uitwys.

Die grootste oorsaak van die groeiende verpleegtekort is bevolkingsgroei, terwyl daar jaarliks minder verpleegkundiges opgelei word as wat aftree. Suid-Afrika het tot en met 2016 stadig maar seker ál meer verpleegkundiges per jaar opgelei, al was dit steeds nie voldoende nie. Sedert 2016 is daar elke jaar mínder verpleegkundiges opgelei. Suid-Afrika lei tans net meer as 3 100 nuwe verpleegkundiges per jaar op. Meer as 50% van Suid-Afrika se werkende verpleegkorps is ouer as 40 jaar; dus sal meer as 55 000 van hulle binne die volgende agt jaar aftree, en meer as 90 000 binne die volgende 25 jaar. Dit kom daarop neer dat die land teen 10% per jaar agteruitboer wat verpleegkundiges betref.

Die agteruitgang in die gehalte van opleiding duur reeds dekades, maar het nou ’n nuwe laagtepunt bereik. Phaahla het onlangs geregistreerde verpleegkundiges bygevoeg op die lys van beroepe met ’n kritieke tekort, maar andersins is daar geen dringendheid by die regering te bespeur nie. Toe die verpleegkolleges gesluit het, is die ervare dosente weg. Die opleiding het vervlak. Die jonger verpleegkundiges is glad nie meer gesog in die Midde-Ooste nie. Baie chirurge is moedeloos omdat die nuwe generasie algemene verpleegkundiges, en ook die teater- en waaksorgverpleegkundiges, nie so vaardig en kundig is as dié wat destyds opgelei is nie. Die nodige getalle word ook nie volgens behoefte in die regte kategorieë opgelei nie.

Om genoeg verpleegkundiges van ander lande af in te voer, is nie haalbaar nie en beslis nie ’n langtermyn-oplossing nie. Hudson berig wat wel volgens die meeste kenners binne die volgende drie jaar gedoen moet word, is: Die akkreditasie van verpleegkolleges vir die nuwe kurrikulum moet dadelik afgehandel, dosente van goeie gehalte moet dringend gewerf en opgelei, die inname van studente vir opleiding as geregistreerde verpleegkundiges moet van 3 000 per jaar tot 20 000 per jaar vermeerder, al 23 000 vakante verpleegposte in die staatsektor moet onmiddellik gevul, en ’n intensiewe program moet ingestel word om stafverpleegkundiges verder op te lei tot algemene verpleegkundiges. Gebeur hierdie dinge nié, gaan die ramp selfs groter wees.

Bg. is slegs ‘n gedeelte van die berig in Vrye Weekblad. Vir meer inligting en besonderhede, gaan na die publikasie se aanlyn-adres info@vryeweekblad.com.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button