South Coast Fever

Wouter se Watergat

Hulle het uitgevind die radio vir daardie model, ‘n Becker Berliner, was beskikbaar by ‘n handelaar wat dit moes invoer, maar teen ‘n prys.

Die stelling is reeds holrug gery, maar 2022 het verby gevlieg. Vinniger as al die vorige jare. Ek weet ek dink elke jaar aan die begin van Desember so, maar die vet weet, dis waar.

Ewenwel, die eerste besoekers het reeds kom gesig wys. Onder hulle was Ronnie en Mabel Donaldson van Bloemfontein wat ons Stokvis en slaptjips kom eet en lekker gesels het. Hulle was ses jaar laas hier, en ons was bly om hulle weer te sien. Hulle het met dieselfde Borgward Isabella as verlede keer, hierheen gery, en toe ek die lieflike motor weer sien, het ek hul storie onthou. Hulle was so ses-en-veertig jaar gelede pas getroud, en hoewel albei reeds afgestudeer het, hy ‘n ingeskrewe prokureursklerk en sy ‘n onderwyseres, was die finansies maar skraps.

Albei van hulle het ‘n liefde vir klassieke motors gehad, en Ronnie het in ‘n boedel afgekom op ‘n 1958 Borgward Isabella-koepee, goed opgepas met ‘n baie lae myl-afstand, en teen ‘n billike prys. Al hul spaargeldjies word oorbetaal en hulle kry die Borgward. Daar was net een probleem…..waar ‘n radio moes wees, was net houthortjies met dieselfde kleur as die res van die spoggerige paneelbord. Hulle het uitgevind die radio vir daardie model, ‘n Becker Berliner, was beskikbaar by ‘n handelaar wat dit moes invoer, maar teen ‘n prys.

Hulle besluit om die komende ses maande ‘van pap en water te leef’, want hulle wou die Becker Berliner hê. Na vier maande se gespaar gaan bestel hulle die radio, en na nog ‘n skaaptjop-, fliek-, roomys- en sjokoladelose maand laat die handelaar hulle weet, die Becker Berliner is daar. Bring sommer ‘n ekstra R120 rand saam vir die invoerbelasting. Hulle leen dit by Mabel se pa, en gaan haal die radio. By die handelaar bring die tegnikus die radio, nog in sy verpakking, haal dit uit en wys hulle die spogproduk. Hulle knik vir mekaar, bly dit was alles die moeite werd. Die tegnikus skuif op die voorste sitplek in, en frons. Hy vroetel by die houthortjies waar die radio se voorkant moet wees, druk hier en daar, en beweeg ‘n hefboombie wat tevoorskyn kom, na bo. Mabel en Ronnie kyk na die tegnikus, na die paneel, na mekaar, en weer na die paneel.

Daar, in al sy glorie, sien hulle ‘n Becker Berliner, presies op die plek waar dit moet wees, maar nou sonder die beskermende houthortjie-bedekking. Die tegnikus druk ‘n knoppie, en die destydse Radio Oranje ( die oorlede eienaar se gunstelingstasie ) se musiek weerklink deur die Borgward. Dit het Mabel en Ronnie net twee dae gevat om van hierdie (lekker) skok te herstel. Die handelaar het die nuwe Becker Berliner twee maande later aan iemand anders verkoop en hulle het amper al hul geld teruggekry. Die egpaar het vandag nog die Borgward, ‘n groot aantrekkingskrag op veteraanmotor-byeenkomste, en die Becker Berliner werk nog perfek.

Ons loopstorie is kort: Al gehoor van die selfmoordbom-terroris in Kabul wat ophou rook het omdat dit sleg is vir sy gesondheid?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button