Stiltetyd: 70 maal 7
Die koms van Jesus na ons toe wat ons in hierdie seisoen gedenk, herinner ons mos hoe groot God se genade en seëninge vir onverdiende sondaarmense is. Mag ons dan minder genadig wees?
Vergewe en vergeet. Dit is twee woordjies met gelaaide betekenis. Gewoonlik reken mense dat dit beteken dat die party wat verantwoordelik was vir die pyn eenvoudig daarmee wegkom.
Sonder om hierop in te gaan, moet mens onthou dat die persoon wat verantwoordelik was vir die ander se pyn tog iets van daardie pyn in hom of haar ronddra al word dit soms ontken. Christene vergewe omdat hulle God se karakter vertoon.
Die Bybelse Petrus het eenkeer na Jesus toe gekom en gevra hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as die teen hom sondig? Ons lees daarvan in Matteus 18:21. Hier teen die jaareinde, kort voor Kersfees, is dit tyd om die boeke na te gaan, veral om na te dink oor die aard en diepte van ons verhoudinge hierdie afgelope jaar. Ons het waarskynlik elkeen op die een of ander manier ’n getuienis van verhoudinge wat skeefgeloop het.
Ons het elkeen egter ook getuienisse van verhoudings wat herstel is. Kersfees vertel vir ons die verhaal van God wat Sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur het om gebroke verhoudinge te kom herstel, veral die gebroke verhouding tussen ons en God wat deur die sonde verwoes is. Kersfees vra van Jesus se volgelinge om vanuit God se liefdeshart te leef. Dit is een van die implikasies van Jesus se ruim interpretasie van Petrus se vraag. Moet ek my broer sewe keer vergewe?
Petrus is ruimhartig in die grens wat hy stel. Drie keer was die aanvaarde norm by die Jode van destyds. Dan “boul” Jesus hom uit met die opmerking van nie sewe maal nie, maar sewentig maal sewe keer. Die beteken nie 490 maal nie, maar onbeperk ,en dan voeg Jesus nog daarby: “van harte vergewe.” Alles wat met mens gebeur word tog êrens in jou liggaam “gestoor”-om leketaal te gebruik. God haal die pyn uit die onthou. As jou hart vol wraak is, onthou van die ontelbare kere wat God jou in Sy genade vergewe het.
Die koms van Jesus na ons toe wat ons in hierdie seisoen gedenk, herinner ons mos hoe groot God se genade en seëninge vir onverdiende sondaarmense is. Mag ons dan minder genadig wees?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
