Die Oekraïne-oorlog – aan wie se kant is jy?
Dis reeds amper ‘n jaar dat die oorlog in die Oekraïne voortwoed met nog geen einde in sig nie. Duisende Oekraïense en Russiese soldate het reeds gesneuwel, volgens gesaghebbende bronne baie meer invallers as verdedigers. In die proses is verwoestende skade aan Oekraïense se stede aangerig, duisende burgelikes gedood en gewond, en het duisende burgers
Dis reeds amper ‘n jaar dat die oorlog in die Oekraïne voortwoed met nog geen einde in sig nie. Duisende Oekraïense en Russiese soldate het reeds gesneuwel, volgens gesaghebbende bronne baie meer invallers as verdedigers. In die proses is verwoestende skade aan Oekraïense se stede aangerig, duisende burgelikes gedood en gewond, en het duisende burgers die land verlaat.
Die Russiese magte was aanvanklik baie suksesvol, en dit het gelyk asof die oorlog nie baie lank sou duur nie. Die weermag en mense van die Oekraïne, onder die leiding van president Wolodimir Zelenski het egter vasgebyt, en die Russe stadig maar seker teruggedryf. Alles dui daarop President Vladimir Poetin het hom gruwelik misreken met die vermoë van sy eie leër en die wil van die Oekraïne om weerstand te bied. President Zelenski, voorheen ‘n akteur en ‘n bedrewe kommunikator, gesteun deur ‘n baie bekwame bestuurspan, het daarin geslaag om sy land se saak wêreldwyd te verkondig deur die visuele en digitale media baie innoverend te gebruik. Hy het geweier om uit Kïev pad te gee, en met sy uniform as daaglikse kleredrag, besoeke aan gevegsgebiede en gebombardeerde stede, selfs Washington, die beeld geskep van ‘n soort Churchill-figuur wat sal vasbyt en tot die einde baklei.
Zelenski het daarin geslaag om die Navolande, en veral Amerika, Engeland, Frankryk en Duitsland agter hom te verenig, en wapens uit hierdie en ander oorde het die Oekraïne grootliks in staat gestel om die Russiese aanslag af te weer en selfs grondgebied te herwin. Dit blyk ook duidelik dat die Russiese soldate nie so gemotiveer soos hul teenstanders is nie, dat Russiese wapentuig verouderd is, en dat die Russe se bevelvoerders deur hul teenstanders oorskadu word. Die Russiese leër het reeds sy vierde opperbevelhebber sedert die begin van die oorlog.
Boonop begin President Poetin sterker teenkanting van sy eie mense kry nadat alhoemeer dooie soldate huistoe gestuur word, en hy ‘n soort diensplig ingestel het om sy magte te versterk. Daar is aanduidings van ontevredenheid onder Russiese weermag-bevelvoerders, en ook van die vervreemding van lede van Poetin se binnekring. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat President Poetin se koelbloedige optrede hom die wêreld se muishond gemaak het, en ongeag van wat die uitslag van die oorlog gaan wees, sal sy aansien nooit weer dieselfde wees nie. Hy staan alleen. Hy besef dit waarskynlik, en dis dalk een van die redes waarom hy gereeld verwysings maak na die moontlike gebruik van kernwapens.
Mense wat hom goed ken, meen dis bloot dreigemente omdat hy weet dat Rusland ‘n baie groter prys as die ander lande gaan betaal in die geval van ‘n kernoorlog. Ander sê egter Poetin het ‘n soort Stalin-mentaliteit ontwikkel en hy sal enigiets doen om Moeder Rusland weer ‘n wêreldmag te maak soos voor die val van die Berlynse muur. Hy het ook klaarblyklik besluit om die Oekraïne se infrastruktuur en burgerlikes te teiken omdat sy magte nie teen die Oekraïense weermag opgewasse is nie. Iets waarvoor hy nie maklik vergewe gaan word nie.
Hoe dit ookal sy, bg. is ‘n kort opsomming van die situasie ter wille van ‘’n agtergrondskets. Die rede waarom die uwe die oorlog in die Oekraïne as onderwerp gekies het, is die besef dat daar ‘n betekenisvolle groep mense in Suid-Afrika is wat Poetin steun, en na Zelenski verwys as ‘n marionet van Amerika en Navo. Ek het ‘n spesmaas hul menings word uit Amerika se regse geledere gevorm. No names, no packdrill. Op ‘n sosiale byeenkoms verlede naweek was daar familievriende wat meen Poetin het die volste reg gehad om die Oekraïne binne te val, onder meer weens ooreenkomste van die vroeë negentigs wat deur Navo en Amerika verbreek is, en daar ‘n sterk Neo-Nazigroep in die Dombasstreek van die Oekraïne is wat uitgesproke vyande van Rusland is. Hulle wil niks van Zelenski weet nie en beskou Poetin as ‘n soort held.
Dit het my nogal ontstel, want myns insiens regverdig geen verbreekte ooreenkoms of enige Poetin-rede vir sy optrede die totale verwoesting en mensemoord wat hy in die Oekraïne pleeg nie. Daar kan geen, geen, regverdiging hiervoor wees nie. Dit het my laat dink aan die vraag van die Oekraïense ambassadeur in Suid-Afrika, me. Liubov Abravitova. Sy het verlede naweek verwys na aanvalle op die burgerlikes, spesifiek Saterdagoggend toe Dnipro onderwerp is aan ‘n massiewe bombardement met Russiese C-400 missiele van net oorkant die grens, en later die dag met 38 X-22-missiele van vliegtuie af gelanseer.
Een van hierdie X-22’s, wat bykans 100 kg. weeg, het ‘n woonstelgebou binne sekondes in ‘n puinhoop verander onderwyl die inwoners Sint Basildag gevier het. Oorlewendes onder die puin het geskree om hulp toe reddingswerkers daar aankom. Deur die nag het die stemme alhoe swakker en uiteindelik stil geword. Teen die oggend is 20 lyke gevind, dosyne mense is hospitaal toe geneem, en 40 was nog vermis. Ambassadeur Abravitova se kommentaar was: ‘Rusland is ‘n terroristestaat. Enigiemand wat Rusland steun, steun hierdie terrorisme.
Diegene wat stilbly, steun hierdie terrorisme. Julle gaan binnekort verkeerd bewys word. Poetin probeer internasionale voedselsekureit ondermyn, hy het gedreig om Europa hierdie winter verhitting te ontsê. Hy dreig lande wat ons help met ‘n kernoorlog. Ek praat nie eens van sy ander volksmoordmisdade in die Oekraïne nie. So aan wie se kant is jy?”
Inderdaad ‘n belangrike vraag.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
