South Coast Fever

Wouter se Watergat

Ons groot teleurstelling, weereens, was die vertoning van ons geliefde Sharks.

Ons is weer in een van die tradisioneel stilste maande van die jaar. Stilste in die sin van min mense, min inkomste en baie tyd om die Watergat ekstra skoon te maak, yskaste te herstel en op die dek rond te sit en die see te bewonder. Daar is net een plek in die omgewing met ‘n houtdek wat nader aan die see is as ons, en dis die Shelly Beach Skibootklub. Ons dek het die voordeel dat hy heelwat hoër is, en ons kan verder rondom ons sien.

Ewenwel, dit was verlede Saterdag toe ek saam met twee besoekers op die dek kuier, dat ons Oom Pottie hoor gil: ‘Kom kyk gou hier, hulle gaan dit nou herhaal. Een van die ongelooflikste drieë wat ek nog gesien het!’ Ons was net betyds voor die TV-stel om die kykweer te sien van Duhan van der Merwe se kragtoer vir Skotland teen Engeland. Ek kon my oë nie glo nie. Hoe verder hy gehardloop en teenstanders gesystap, geflous en afgestamp het, vyf van hulle, hoe onwerkliker was dit. Hy het die drie dubbel en dwars verdien, maar ek kan my voorstel wat Engeland se afrigtingspan met rustyd aan hulle gesê ( skree?) het.

Dit was darem te maklik. Daarbenewens het Van der Merwe, die speler van die wedstryd, aan die einde ‘n kragdrie van formaat gedruk wat die Skotte se oorwinning verseker het. En wie het hy met minagting geklop met ‘n swenk na binne? Dieselfde Marcus Smith wat Kurt-Lee Arendse in verlede jaar se toetswedstryd op pad doellyn toe geklop het asof Smith nie op die veld was nie. Van der Merwe, reeds ‘n Britse Leeu, met sy krag, spoed en vernuf moet nou beslis een van die beste vleuels in die wêreld wees, indien nie die beste nie. En nou ontstaan die vraag. Hoe op aarde het hierdie talentvolle speler, wat reeds in Pretoria skitterrugby as jongeling gespeel het, vir Suid-Afrika verlore geraak? Sal liewer nie verklap wat die kommentare hier in die Watergat was nie.

Ons groot teleurstelling, weereens, was die vertoning van ons geliefde Sharks. Die Stormers het hulle soos kitsgras opgerol. Pottie se kommentaar was die probleem lê by die afrigting en spankeuses vir sekere wedstryde. Hy het dieselfde vraag gevra wat hy reeds vyf jaar lank vra. Waarom is Curwin Bosch nog in die span? My vraag is of Neil Powell die vyftienmanspel onder die knie het. Wat ek wel weet, is die ryk Amerikaanse eienaar kan nie baie gelukkig wees nie. Met sy geld het die Sharks ‘n sak vol Springbokke gekoop, en dit help hulle niks.

Ons loopstorie is nie nuut nie, maar ‘n prokureur van Scottburgh het hom weer met ons gedeel::Verkoopsman: “Middag dame, kan ek help?” Blondine: “Ja asseblief, ek het ‘n braai vanaand en wil ‘n ou slaaitjie maak en is op soek na ses prokureurspere” Verkoopspersoon: “Prokureurspere?” Blondine: “Ja man, daardie groen goed met die groot pit in die middel” Verkoopsman: “Ooo, u bedoel avokado pere”
Blondine: “Ja man, een of ander slim man se pere, gee net vir my ses”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button