Is daar enige hoop hoegenaamd vir Suid-Afrika?
Die president het ook nou beweeg op ons aanbevelings oor fluitjieblasers.
Die uwe het is die afgelope vier weke besig om Jacques Pauw se boek ‘Our Poisoned Land’ te lees. Dit is ‘n opvolg op die blitsverkoper ‘The President’s Keepers’, wat ‘n groot rol gespeel het om die omvang van die korrupsie in die Jacob Zuma-era te ontbloot. Dit was tegelyk fassinerend en skokkend om hierdie boek deur ‘n gesoute joernalis soos Pauw te lees. Ek kon die boek nie neersit nie, en het dit, ‘n redelik lywige stuk werk, binne ‘n dag en ‘n half deurgelees.
‘Our Poisoned Land’ is egter ‘n ander ervaring. Ek sukkel om dit gelees te kry. Om die eenvoudige rede dit bevat gedetailleerde inligting oor korrupsie, wanregering en totale wetteloosheid oral in die land. Bladsy na bladsy. Hoe verder ek lees, hoe mismoediger en wanhopiger raak ek. ‘n Paragraaf op die agterblad som die situasie baie goed op: ‘Toe hy in 2018 die bewind aanvaar het, het President Cyril Ramaphosa nuwe hoofde vir die wetstoepassingsagentskappe aangestel, en die Ondersoek-direktoraat binne die Nasionale Vervolgingsgesag gevestig om die plunderaars en konkelaars hok te slaan. Maar vyf jaar later, het misdaad die hoogte ingeskiet, is die meerderheid van die plunderaars op vrye voet en is daar ‘n deurmekaarspul aan die gang in die wetstoepassingsagentskappe.
Van Pauw se skokkende bevindings is dat top-polisiemense wat aandadig was aan staatskaping, nog steeds in die diens van die Valke en die polisie se Misdaad-intelligensieagentskap is, daar ‘n ‘cabal’ staatskaping-aanklaers binne die Nasionale Vervolgingsgesag is, ‘n minister van polisie maats is met ‘n veroordeelde dwelmhandelaar, en dat Suid-Afrika se ‘eie Guptas’ in weelde lewe nadat ‘n vervolgingsaak teen hulle ‘verdwyn’ het.’
Die inligting in Pauw se boek is so verdoemend, die vraag ontstaan onmiddellik of Suid-Afrika hoegenaamd ‘n kans het om van hierdie enorme skade te herstel. Met die lees van die boek het die uwe, die ewige optimis, teen die agtergrond van huidige teleurstellende politieke verwikkelinge, uiteindelik besluit daar is vir ons geen hoop meer nie. Totdat ek afgekom het op twee nuusberigte wat my weer hoop gegee het.
Die een was ‘n onderhoud wat op Litnet gevoer is met Zongebo Zizi, die stigter van ‘n groep professionele mense met die naam ‘The Rivonia Circle’ om verandering in Suid-Afrika teweeg te bring, en skrywer van die boek Manifesto. In die onderhoud herhaal hy basies wat hy in sy boek verklaar het: ‘Suid-Afrika is gebreek en benodig ‘n fundamentele herskikking en verandering. Ek verwag nie dit kan deur die ANC vermag word nie. Niemand moet so naïef wees om dit te verwag nie.
Hierdie algehele handomkeer behels die aftakeling van die totale ‘post-1994 elite-konsensus’ wat neerkom op veranderings/aanpassings deur die ANC om ‘n wanfunksionele stelsel te verander. Dit is belangrik om nie verwar te word deur die valse beloftes vir verandering deur die ANC-faksies nie. Geeneen van hierdie faksies het enige betekenisvolle begrip van hoe ‘n moderne regering funksioneer, of ekonomiese en maatskaplike beleidsbeplanning nie.’
Die ander berig wat my moed gegee het, was oor ‘n gesprek met professor Firoz Cachalia van die Universiteit van die Witwatersrand se regsfakulteit, en oud-ANC-politikus, deur Anneliese Burgess van Vrye Weekblad. Sy wys daarop dat hy 15 jaar gelede reeds probleme met die ANC gehad het weens sy teenkanting teen korrupte praktyke, en as LUR afgedank is. Deesdae is hy die leier van president Ramaphosa se ‘kajuitraad’ oor korrupsie. Hy het ‘n wye gesprek met Burgess gevoer, en onder meer die volgende verklaar: “Geen hernuwingsagenda vir Suid-Afrika kan suksesvol wees as ons nie ’n teenkorrupsie-agenda permanent deel van al ons instellings maak nie. Korrupsie het ernstige oplossings nodig.
Die nasionale adviesraad teen korrupsie het nie die magte om korrupsie self te beveg nie, maar ons moet die plan saamstel van hoe dit effektief gedoen kan word. Ek hoop dat ons volgende maand ons eerste groot aanbeveling ter tafel sal kan lê: ’n model vir ’n permanente, onafhanklike teenkorrupsie-agentskap wat proaktief oor alle staatsinstellings heen sal kan optree. Maar die president het ook nou beweeg op ons aanbevelings oor fluitjieblasers. By die afsluiting van die ANC se lekgotla verlede week het hy aangekondig dat hy dringende interim-maatreëls in posisie wil hê om fluitjieblasers te beskerm terwyl daar gewerk word aan die wetgewing daarvoor.” Oor die afgelope ses maande het die adviesraad hulleself verdiep in alle aspekte van strategieë teen korrupsie. En daar is goeie stories ook om te vertel, sê Cachalia.
“Die nasionale vervolgingsgesag begin nou weer tekens van lewe en vitaliteit toon en ek is beïndruk met die uitstekende ervaring wat steeds binne die spesiale ondersoekeenheid is. Ons kan daarop bou. En albei instellings word deur uitsonderlike mense gelei. Ons het ’n goeie basis om van te werk. Ek glo ons het die mensekapitaal om ons uitdagings te hanteer.”
Cachalia het verskeie ander positiewe stellings met vertroue gemaak, wat die uwe se nuwe hoop verstewig het. Voeg hierby inisiatiewe deur mense soos oud-DA-politici Mmusi Maimane, Lindiwe Mazibuko en oud-minister Mcebisi Jonas, plus talle ander deur gemeenskapsorganisasies en nie-regeringsorganisasies dwarsdeur die land, en die liggie aan die einde van die tonnel flikker alhoe helderder. Hoop nie dis ‘n trein nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
