Kaapsche Hoop – die wonderlike goudklont-dorpie van die Laeveld
Alle Suid-Afrikaners het hul gunstelingdorpies in Suid-Afrika. Sommige van ons het die voorreg gehad om vroeg in ons lewens gereeld groot dele van die platteland te besoek en met die kleiner dorpies in aanraking te kom. Die uwe was oor die jare bevoorreg, hoofsaaklik as gevolg van my beroep en ook ‘n verskeidenheid ander redes,
Alle Suid-Afrikaners het hul gunstelingdorpies in Suid-Afrika. Sommige van ons het die voorreg gehad om vroeg in ons lewens gereeld groot dele van die platteland te besoek en met die kleiner dorpies in aanraking te kom.
Die uwe was oor die jare bevoorreg, hoofsaaklik as gevolg van my beroep en ook ‘n verskeidenheid ander redes, om op verskeie plekke in die land plattlelandse dorpies te besoek of aan te doen. Tot dusver was my gunstelinge meesal in die Boland, die Karoo en in die Vrystaat. Tot drie weke gelede. Vroulief en ek en ons oudste seun op vakansie uit China, waar hy reeds nege jaar lank werk, het, soos gebruiklik wanneer hy terug in die land is, die Nasionale Krugerwildtuin besoek, maar onderweg soontoe, in die dorpie Kaapsche Hoop oornag. Enersyds, om familie in die omgewing te besoek, en andersyds, ondersoek in te stel na die dorpie waarvan ek reeds so baie gehoor het.
Wat ‘n aangename, verrykende ervaring. Kaapsche Hoop, ‘n unieke ‘poskaartdorpie’, is sowat 25 kilometer van Nelspruit, oftewel Mbombela, af, op ‘n plato bokant die Barbertonvallei, in die sg. ‘misgordel’ van die omgewing, met ‘n jaarlikse reënval van oor die 1 000 millimeter. Die temperatuur is in die algemeen 5 grade kouer as in Nelspruit, en dis gereeld mistig. Die dorpie, wat basies net een straat het, is naby woude met rotskoppies van die Mpumalang-eskarpement oral in die omgewing. Die geboue in die dorpie self, meesal huise, gastehuise en restaurante, is prentjiemooi in hul outydse boustyl, en ongelooflik netjies versorg. Ook die tuine en algemene plantegroei is iets besonders.
Kaapsche Hoop het oorspronklik bekendheid verwerf as ‘n goudmyndorp, aanvanklik bekend as Duiwelskantoor, toe spoelgoud in 1882 ontdek is in ‘n klein spruitjie wat deur die dorp vloei. ‘n Groot deel van die oorspronklike dorp-uitleg is herroep en vir gouddelwery geopen. Die dorp het egter stelselmatig agteruitgegaan na die ontdekking van goud op Barberton en Pelgrimsrus, en veral na die goudvondse aan die Wiwatersrand van 1886 af, ook as gevolg van die karige opbrengste in die dorpie self. Die oorblywende prospekteerders verander toe die dorpie se naam na Kaapsche Hoop, met die hoop dat die geluk wat van hul kennisse in die Kaap gevind het, ook aan hulle toegeken sal word. Dit het nie gebeur nie, en teen die 1940’s het net sowat sestien moedelose en baie gefrustreerde inwoners oorgebly.
Die dorpie is hierna ‘herontdek’, stelselmatig deur kundiges vernuwe tot die juweel wat dit vandag is. Daar is ongeveer 200 permanente inwoners, en is veral oor naweke ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid met verskillende buitelug-aktiwiteite. Dit is ook ‘n gesogte plek vir huwelike met sy eie klein kapel en genoeg oornagverblyf vir al die gaste. Vir die uwe was dit ‘n groot plesier om besoek af te lê by die kuierkroeg Nagkantoor wat die afgelope tyd landwyd bekend geraak het. Dit het ‘n unieke joernalistieke atmosfeer, word besit en bestuur deur die De Wet Potgieter, ‘n veteraan van ons beroep, bygestaan deur sy wederhelfte, Alita Steenkamp, ook ‘n ervare joernalis. Tydens ons besoek het ons die bekende skrywer Dana Snyman daar ontmoet, wat sedert verlede jaar op Kaapsche Hoop bly. Joernaliste vanoor die hele land kommunikeer met mekaar op die Facebookgroep Nagkantoor.
Die uniekste kenmerk van Kaapsche Hoop noem ek laaste. Naamlik die wilde perde van die omgewing wat jare lank reeds vrylik daar ronddwaal. Hulle loop oral rond, en is die afstammelinge van perde wat na die Anglo-Boere-oorlog deur die Britse soldate agtergelaat is. Van die perde se voorsate het blykbaar ook uit kampe ontsnap en hulle by die trop aangesluit. Die inwoners waarsku besoekers gou om nie te dink die diere is mak nie. Hulle is mense gewoond, maar verkies om nie gesteur te word nie, en daar was reeds verskeie gevalle in die verlede waartydens mense deur hulle beseer is. Reeds enkele kilometers voor die dorp onderweg van Nelspruit af kom ‘n mens hulle teë, en van hulle loop gereeld rustig deur die dorpie.
Vir mense in hierdie deel van KwaZulu-Natal is Kaapsche Hoop redelik ver van hul normale vakansieroetes af, maar wees verseker. Dis ‘n unieke plek. En op die oomblik my gunsteling plattelandse dorp in Suid-Afrika.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page


