South Coast Fever

Stiltetyd: Wat is jou ‘lewenslogo’?

Dink maar aan die bekende logo van ’n sekere hardloopskoen.

Hoe bemarkbaar is die Christelike boodskap in ’n land wat plek-plek dreig om te polariseer, waar die woord “rassisme” soms gehoor word, waar korrupsie plek-plek wil handuit ruk? Maatskappye het soms ’n logo waarmee hulle hulself bemark. Dit maak ’n eerste indruk en nooi mense uit om met jou maatskappy te identifiseer. Dit bied ook aan jou maatskappy ’n simbool waarmee mense makliker met jou produk kan identifiseer.
Dink maar aan die bekende logo van ’n sekere hardloopskoen. Ons lewe in ’n grootliks Christlike land waar die Christene die “logo” is van God se nuwe wêreld, Sy koninkryk. Christene nooi mense om met die Christus te identifiseer. As ons enigsins aan hierdie groot roeping wil voldoen, moet ons onsself net weer ’n slag herinner aan wat die Bybel oor ons roeping leer, oor waarvoor ons as Christene staan, wat ons “logo” is. Mense sukkel soms om hulself te “vind” in ’n oorgang situasie. Soms vind die “oorgange” in ons dag teen ’n verbysterende spoed plaas. Mense beleef soms ’n krisis omdat hulle “trooskombersies,” die dinge wat hulle laat voel het hulle behoort, by wyse van spreke van hulle ontneem is.

In hierdie sogenaamde “global village” waar alles snel verander, herinner 1 Petrus 2:9 ons weer waarvoor ons staan as gelowiges. Christene is God se nuwe mense, Sy kerk, ’n uitverkore volk, ‘n heilige nasie, ’n volk wat aan God behoort, sodat hulle Sy deugde kan verkondig, die deugde van Hom wat hulle geroep het uit die duisternis na Sy wonderbare lig. Dit is voorwaar adellike voorregte en verantwoordelikhede. Dit is om God te verteenwoordig waar jy leef en werk en bid. Ons is geroep om anders te wees as die mense om ons. Anders nie in die sin dat ons wêreldvreemd word nie, maar anders in die waardes wat ons najaag, die drome wat ons droom, die dinge wat vir ons belangrik is. Christus Jesus se bediening het iets van God se nuwe wêreld en droom vir Sy herstelde skepping kom weerspieël. Hy het lig gebring waar Hy bedien het. Bring jy lig in die duisternis of is jy deel van die duisternis? Is jou lewe die “logo” van God se nuwe wêreld?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button