South Coast Fever

President Barend du Plessis in 1989: Waar sou SA nou gewees het?

Met die ontleding van die stemme is daar besef hoe na aan die amp van Staatspresident mnr. Barend du Plessis gekom het.

‘Wat as?’. Hoeveel keer in ons lewens het ons hierdie vraag nie gevra nie. Wat sou die uiteinde gewees het as dit of dat nie gebeur het nie. Tov. die situasie in Suid-Afrika is die vraag wat ek myself reeds baie keer gevra het: waar sou ons gewees het indien sekere gebeure op 2 Februarie 1989 anders verloop het ? Gebeure wat onmiddellik daarna, in die res van Februarie, 34 jaar gelede, reeds onstuimigheid veroorsaak het wat tot Augustus van daardie jaar geduur het.

Dit was die dag toe die Nasionale Party-koukus onverwags en totaal onvoorbereid moes stem om ‘n nuwe leier van die Nasionale Party aan te wys. Die rede daarvoor was ‘n brief wat die destydse leier, President P.W. Botha, via die voorsitter van die party se koukus aan die koukus gestuur het. President Botha was besig om te herstel van ‘n beroerte op 18 Januarie gehad het, en sy versoek was dat die koukus ‘n nuwe leier van die Nasionale Party aanwys sodat sy las verlig kon word. Hy sou dan aanbly as die Staatspresident.

Ek het van die dag se detail vergeet, en het my geheue verfris met die boek van Alf Ries en Ebbe Dommisse, ‘Leierstryd’. Die twee gesoute joernaliste wys daarop die brief het die NP heeltemal ontkant gevang. Die 130 voltallige lede was terdeë bewus van wat die gevolge kon wees van so ‘n stap. Hoe sou die party kon saamleef met ‘n uitvoerende staatspresident wat steeds besluite kon neem, en ‘n leier van die party wat verantwoordelikheid sou aanvaar vir die beleidsbesluite en bestuur van die party, sonder dat daar onenigheid is of botsings ontstaan? In die koukus was daar uiteenlopende menings hieroor, maar uiteindelik is besluit om aan die president se versoek gehoor te gee. Daar is met ‘n geskarrel reëlings vir stembriewe en ‘n stembus getref, en die proses het begin.

Mnr. Pik Botha, een van die Transvaalse onder-voorsitters, het prober eenstemmigheid kry oor ‘n opvolger sodat ‘n stemmery vermy kon word, maar dit het misluk. Die benoemings, in orde van senioriteit, was die waarnemende Staatspresident, mnr. Chris Heunis, wat ook die Minister van Staatkundige Ontwikkeling en Beplanning en Kaapslandse NP-leier was, mnr. Pik Botha, die Minister van Buitelandse Sake, mnr. F.W. de Klerk, die Minister van Nasionale Opvoeding, voorsitter van die Ministersraad in die Volksraad en Transvaalse NP-leier, en mnr. Barend du Plessis, die Minister van Finansies.

In die koukusvertrek is die lede in alfabetiese volgorde na vore geroep, en elkeen het ‘n stembrief gekry waarop hy sy kruisie moes trek. Die stemprosedure was dat die kandidaat met die minste stemme in elke ronde sou uitval tensy ‘n kandidaat vroeg reeds ‘n volstrekte meerderheid kry. In die eerste ronde het mnr. De Klerk 59 stemme gekry, mnr. Du Plessis 30, mnr. Heunis 25, en mnr. Botha 16.

In die tweede ronde het mnr. De Klerk vyf meer gekry, wat sy stemmetal op 64 te staan gebring het. Mnr. Du Plessis se stemme het met 10 tot 40 toegeneem, en mnr. Heunis een meer met 26. Dit het hom uitgeskakel. In die derde en finale ronde het mnr. De Klerk 69 stemme gekry teenoor die 61 van mnr. Du Plessis. Die vertoning van die jong mnr. Du Plessis was ‘n groot verrassing, veral omdat hy nie senior posisies in die party beklee het nie. Dit was duidelik die oorgrote meerderheid van mnr. Botha en mnr. Heunis se ondersteuners in die vroeë rondes het hulle by mnr. Du Plessis geskaar.

Na die vergadering is die nuus aan ‘n verbaasde Suid-Afrika bekend gemaak. Slegs enkele joernaliste het terwyl die vergadering aan die gang was, snuf in die neus gekry, maar vir diegene buite die koukus, was dit ‘n volslae verrassing.

Met die ontleding van die stemme is daar besef hoe na aan die amp van Staatspresident mnr. Barend du Plessis gekom het. Indien slegs vyf koukuslede anders gestem het, was hy die land se volgende Staatshoof. Waar sou Suid-Afrika vandag gewees het indien daardie vyf koukuslede wel anders gestem het? Ons kan maar net bespiegel. Mnr. Du Plessis is die enigste oorlewende van daardie dag se kandidate, en dit sal bitter interressant wees om sy menings hieroor te hoor.

Wat wel seker is, die aanvanklike vrese oor die gevolge van President Botha se bedanking is bewaarheid. Sommer gou. Hy het op 14 Augustus 1989 bedank weens ernstige onenigheid en meningsverskille met mnr. De Klerk en sy kabinet, regstreeks agv. die mag wat op twee plekke gesetel was en mnr. Botha se gebrek aan ‘n magsbasis.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button