Vandeesweek gaan ek weer die politiek en verwante depressie-veroorsakers vermy, en konsentreer op die tydverdryf wat meer doen om mense bymekaar te bring as enigiets anders ter wêreld. Sport. En in die besonder die prestasie van ons Protea-vrouespan in die T20-toernooi om die Wêreldbeker. Na ‘n sukkelbegin het hulle deurgeskuur tot in die eindstryd, en hoewel hulle nie gewen het nie, het hulle hulself uitstekend van hul taak gekwyt.
Hul prestasie het die soeklig opnuut op vrouekrieket laat val en skielik het almal van hulle geweet. Die kaartjies vir die eindstryd op Nuweland is binne ‘n japtrap uitverkoop toe dit blyk die Proteas speel in die finaal, en wat ‘n plesier om die geesdriftige en meelewende skare van alle rasse te sien hoe hulle die vroue ondersteun. Dit moes ‘n wonderlike ervaring gewees het om dit mee te maak.
Skielik het Krieket Suid-Afrika ook van hulle, asook die oproepe dat meer gedoen word om vroue-krieket te bevorder, kennis geneem, en dit lyk asof hulle nou spesiale aandag gaan kry. Dis nogal opmerklik hoeveel van ons beste vrouespelers Afrikaanssprekend is, wat ons hier in die Watergat trots gemaak het. Ek moet erken dis nie alle vrouespanne wat goeie krieket speel nie, en van hulle sukkel met hul gewig. Nietemin, ons het lekker gekyk.
Aan die rugbyfront het die onvoorspelbaarheid voortgeduur. Nà ‘n goeie oorwinning verlede week, het die Sharks weer gaan staan en verloor. Onverstaanbaar. En die Lions, na ‘n loesing verlede week, klop Glasgow, ‘n sterk span, oortuigend, aan die einde met 14 man. Pottie is uit sy vel uit. Waarom weet ek nie mooi nie, want die Johannesburgers sit met ernstige interne probleme. Dalk dieselfde situasie op pad vir die Sharks? Die Amerikaanse miljoenêr-eienaar kan mos nie met sie span se wisselvalligheid tevrede wees nie?
Een van ons besoekers, Santa Verwey van Ramsgate, het ons vertel van ‘n ervaring toe sy nog ‘n baie jong dogter was. Ons het in ‘n stadium oor ons verledes gepraat toe hier ‘n groep Suidkus-inwoners was wat Santa se 80e verjaardag gevier het. Baie interessant en nostalgies, met ‘n goeie hoeveelheid humor. Santa het verwys na die koekmeel wat destyds in sterk linnesaakkkies te kry was. Die sakkies is duidelik in swart gemerk: 5 lb. koekmeel 5 lbs Cake Flour. Hul gesin was, soos baie ander daardie jare, arm. Die ma’s het op elke moontlike manier prober geld spaar, die sakkies met seepsoda uitgekook en die swart skrif uitgewas. Die sakkies is gebruik om broekies vir die dogtertjies te maak.
Sodra hulle standard vier toe gegaan het, het die dogters gekoopte winkelbroekies gekry, nogal ‘n gebeurtenis. Nadat Santa matriek geslaag het, het sy in ‘n motorhawe gaan werk, saam met ‘n skoolvriend, Carel, wie sy toe al baie jare ken. Sy kom een oggend in ‘n sterk wind om die hoek van die gebou, en haar rok word heeltemal opgeruk. Sy het dit inderhaas afgedruk en gekeer vir die vale, maar nie voordat Carel hier skuins voor haar met ‘n lag in sy stem verklaar nie: ‘Toemaar, ek het klaar gelees. 5 lb. koekmeel!’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
