Stiltetyd: Gierigheid
Die Bybel leer ons dat Christus God se geliefde is en in Hom is jy wat glo ook God se geliefde kind.
As mens die woord gierigheid noem, dan lui daar dalk nie dadelik ’n klokkie by iemand nie. Dis immers nie ’n woord met ’n goeie assosiasie nie. Gebruik jy die egter woord korrupsie in gesprekke staan almal se hare penorent. Dis aktueel en is die onderwerp van die dag in hedendaagse Suid-Afrika. Tog lê gierigheid aan die wortel van korrupsie.
Dit gaan immers oor inhaligheid en self bevoordeling ten koste van ander. Die van ons wat die karakter “Scrooge,” in die bekende film oor n gemene karakter wat ander uitbuit gesien het, sal dalk weet waarvan ons praat as ons die woord gierigheid gebruik. Gierigheid word geassosieer met die sogenaamde Ponzi -skemas en mense wat hulle soos varke gedra. Tog is gierigheid inherent aan elke mens.
Dit is wanneer die gesonde strewe om jou lewe te verbeter die hoogste doel word wat jy nastreef.
Weereens is rykdom nie noodwendig gelyk aan gierigheid nie. Gierigheid is die gejaag na geld of besittings of mag oor ander ten alle koste. In 1 Timoteus 6:10 word (geld) gierigheid die wortel van alle kwaad genoem. In Dante se Purgatorio word die boetvaardiges vasgebind en met hulle gesig na onder op die grond neergelê omdat hulle te veel op aardse dinge gekonsentreer het.
Die opgaar van voorwerpe, diefstal en roof, veral deur geweld, ‘n kullery of die manipulasie van gesag, is alles dade wat deur gierigheid teweeggebring kan word. Hoe kan mens keer dat jy in die strik van gierigheid trap? Een manier is om ’n houding van dankbaarheid te kweek. Wees tevrede met wat jy het, leef binne jou perke, moenie jouself gedurig met ander vergelyk nie. Ten minste, leef met die besef dat jou waarde as mens nie gekoppel is aan status of posisie nie, maar wie jy is in Christus.
Die Bybel leer ons dat Christus God se geliefde is en in Hom is jy wat glo ook God se geliefde kind. Vestig jou oë op God wat aan Sy kinders alle dinge in oorvloed gee om te geniet. Sien jou besittings of geld as aan jou geleen en gebruik wat jy het om ook ander mee te seën.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
