South Coast Fever

Skokkende nuwe inligting oor Eskom – gaan dit SA sink of red?

Enkele weke gelede het die uwe hier geskryf hy sien nog ‘n greintjie hoop vir Suid-Afrika. Nou nie meer nie.

Die uwe, soos derduisende ander Suid-Afrikaners, is die afgelope paar weke opnuut tot in my diepste wese geskok deur die onthullings in verskeie media oor die korrupsie by Eskom, die totale verval in die land in die algemeen en die algehele onvermoë van die ANC-regering om iets daaraan te doen.

Die jongste periode van swartgalligheid het begin met die onthullings deur die afgedankte uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, oor onder meer misdaad-kartelle en ministeriële betrokkenheid by die korrupsie. Ek het bedenkinge ivm. met die onderhoud, onder meer oor die tydsberekening daarvan ( moes De Ruyter nie gewag het totdat hy finaal weg was by Eskom nie? ), en oor die wysheid van onthullings in die openbaar pleks van om dit eers intern en amptelik aan sowel die Eskom-raad as die politieke leiers te noem. Dalk kon hy geredeneer het waardevolle tyd sou verlore gaan, maar bg. faktore het die ANC die geleentheid gegee om hom met allerhande onsinnige beskuldigings by te kom, onder meer dat hy ‘n regse rassis is wat Eskom wou saboteer.

Nietemin, vroeër hierdie week vra die redakteur van News 24, Adriaan Basson, die vraag of Suid-Afrika nie reeds ‘n volskaalse Mafiastaat is nie, en noem verskeie faktore as bewyse daarvan, onder meer die totale onvermoë van die polisie om hoegenaamd iets te doen aan die misdaadsituasie in die land. Basson verklaar hy het tot die gevolgtrekking gekom nadat hy die afgelope maande gesprekke gevoer het met mense wat hom rillerstories vertel het oor hoe georganiseerde misdaad reeds alle vlakke van ons gemeenskap binnegedring het. Van die hoër onderwysgeledere, tot konstruksie, die mynwese en selfs die politiek. Hy wys daarop ‘n senior, gesaghebbende wetstoepasser het enkele dae gelede verklaar georganiseerde misdaad is die nuwe staatskapingsaksie, en verwys na die Zondo-kommissie se getuienisleier, adv. Paul Pretorius SC, se stelling op ‘n seminaar dat Suid-Afrika ‘n ‘donker en meer sinistere periode’ binnegaan. ‘n Bouer in Gauteng het hom in Desember meegedeel hy kan nie meer sake doen sonder om die ‘konstruksiemafia’ teë te kom nie. Hulle is self-aangestelde ‘sakeforums’ wat kontrakte manipuleer en beheer.

Die verwikkeling wat die grooste negatiewe invloed op my gehad het was die Daily Maverick se jongste reeks onthullings oor die omvang van die korrupsie in Eskom. Die Engelse uitdrukking wat hier van toepassing is, is ‘it is mind-boggling’. Toe hierdie rubriek geskryf is, was nog net die eerste van vier in ‘n reeks onthullings bekend, maar erg genoeg om te weet wat sou volg. Van die DM se verslaggewers het eksklusiewe toegang gekry tot inligting wat nie alleen die stellings van De Ruyter staaf nie, maar veel verdoemender bewyse blootgelê het. Die inligting is breedvoerig aan die DM in ‘n ‘veilige huis’ verskaf deur onder meer twee ervare oud-amptenare van die staat wat nou vir die privaatsektor werk. Die amptenare het dit duidelik aan die DM se verslaggewers gestel dat hulle toegang gegee word tot bewyse en intelligensie-inligting. Dis die joernaliste se werk ‘om die kolletjies te verbind’. Hulle mag ook niks uit die verslae publiseer totdat hulle toestemming daartoe verleen word nie.

Deel van die inligting is die name van senior lede van die polisie, en twee twee senior lede van President Ramaphosa se kabinet wat by die onwettige bedrywighede betrokke is. Hulle word verbind met vier kriminele kartels wat binne Eskom bedrywig is, en die bedrywighede van moordbendes. Die kartelle is betrokke by die sabotasie van Eskom se kragsentrales asook ‘n program van politieke destabilisasie. Die DM se mense is ‘n volledige organigram gewys met die name van sleutel-rolspelers daarop ingevul, tesame met foto’s van die betrokkenes en die name van maatskappye waarby hulle geaffilieer is. Die kartelle is veral betrokke by onwettige tenderpraktyke binne Eskom. Die prosesse word volledig verduidelik, en daar is ongelukkig nie ruimte om dit hier te doen nie, maar dis duidelik dat dit ernstige sake is wat in die toekoms katastrofiese, beslissende gevolge vir die land in die algemeen en die ANC in die besonder kan hê. Die DM-verslaggewers is voortdurend herinner aan die inherente gevare van die situasie, en die noodsaaklikheid dat die bronne nie nou bekend gemaak kan word nie. Daar mag ook nie uit die inligting aangehaal word totdat die groen lig gegee word nie. ‘Indien julle wil doodgaan,’ het die hoofbron verklaar, ‘kom speel dan hier’. Intussen het minister Pravin Gordhan, een van die ‘goeie ouens’ in die stryd teen Jacob Zuma, erken De Ruyter het met hom oor die betrokkenheid van ANC-mense by korrupsie gepraat, maar, anders as voorheen, geen voorneme getoon om die saak op die spits te dryf nie.

Enkele weke gelede het die uwe hier geskryf hy sien nog ‘n greintjie hoop vir Suid-Afrika. Nou nie meer nie. Tensy die ondersoekers daarin slaag om ‘n waterdigte saak op te bou, en die uiteindelike onthullings van die name van die hooggeplaasde betrokkenes die ANC laat inplof en oortuigend verslaan word in aanstaande jaar se verkiesing. President Ramaphosa? Het sy kanse verspeel en is nou ‘n tragiese figuur in sy onmag om die land te red.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button