South Coast Fever

Suid-Afrika se universiteite – hoe goed is hulle?

Webometrics het die universiteite ingevolge drie hoof-indikators gegradeer.

Met die onlangse onluste aan die Universiteit van Johannesburg, die onsmaaklike gebeure rondom die kanselier van die Universiteit van Kaapstad ‘n week of wat gelede, en berigte dat daar by verskeie ander universiteite ernstige probleme van die een of ander aard is, het verskeie mense in my omgewing, ekself inkluis, gewonder waar hulle deesdae is op die lys van beste universiteite in die wêreld. Veral omdat daar so ‘n geleidelike verval was in ander Suid-Afrikaanse instansies oor die afgelope tien tot twintig jaar.

Ek het op die internet afgekom op die webwerf van Webometrics, ook bekend as die Graderingsweb van Universiteite, ‘n gesaghebbende stelsel vir die gradering van die wêreld se tersiëre instelllings. Die graderings is is die resultaat van saamgestelde aanwysers gegrond op sowel die volume van die universiteite se blootstelling op die internet ( die aantal bladsye en lêers ), as die sigbaarheid en impak van hierdie publikasies op die web. Dit word bepaal deur die aantal besoeke en erkennings wat hulle van buite af kry.
Die doel van hierdie gradering is om die teenwoordigheid van die akademiese en navorsings-instellings op die internet van sowat 31 000 universiteite wêreldwyd te bevorder, en om die maklike toegang tot wetenskaplike inligting en die publikasie daarvan te gee. Webometrics het pas al Suid-Afrika se universiteite beoordeel, en die fokus is op sowel maklike toegang tot data, as die kwantiteit en kwaliteit van hul web-inhoud. Webometrics benadruk die graderings het niks te doen met die universiteite se webwerwe ten opsigte van gewildheid, ontwerp of gemak van toegang nie. Wel met ontledings van die skakelings van buite, en bibliografiese verwysings na die inhoud deur ander universiteite, wat ‘n duidelike weerspieëling of aanduiding is van die akademiese gehalte van die instelling.

Webometrics het die universiteite ingevolge drie hoof-indikators gegradeer: 1. Sigbaarheid, maw. die aantal eksterne netwerke wat met die Universiteit se webwerf in verbinding tree. 2. Deursigtigheid en openheid – die aantal verwysings wat die top 310 outeurs behaal. 3. Uitnemendheid – Die aantal kere wat navorsingsresultate van die top 10 outeurs in elkeen van 27 dissiplines van die volle databasis oor die afgelope vyf jaar sitasies ontvang het. Daar word noukeurig aandag gegee aan die uitskakeling van ‘subjektiewe’ faktore soos die terugvoer van opnames, asook onbetroubare verslae van die universiteite self.

Weens die web-gebaseerde aard van die versamelde data, word ‘n getal van 31 000 tersiëre inrigtings betrek, insluitend talle van die kleiner kolleges en inrigtings wat dikwels deur ander globale graderings weggelaat word. Die inrigtings word almal saam beoordeel, naamlik kolleges, universiteite, en teologiese kweekskole. In Suid-Afrika is 123 inrigtings vir hoër opvoeding gegradeer, en hulle was tussen 246e en 29,531e ter wêreld. Suid-Afrika het 26 openbare universiteite, insluitend 12 tradisionele universiteite, ses sg. omvattende universiteite, en agt universiteite van tegnologie. Almal van hulle is in die graderings teenwoordig. Die Universiteit van Kaapstad is die top-gegradeerde universiteit in die land, wat ooreenstem met ander graderings, gevolg deur die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Stellenbosch, en die Universiteit van Pretoria. Hierdie vier is die enigste Suid-Afrikaanse universiteite binne die top-500 ter wêreld. Die Universiteite van KwaZulu-Natal, en dié van Johannesburg, Wes-Kaapland en Unisa is binne die top-1000.

Die top universiteite en hul wêreld-rangorde is die volgende: Kaapstad 246, Wiwatersrand 398, Stellenbosch 438, Pretoria 450, KwaZulu-Natal 598, Johannesburg, Unisa 795, Wes-Kaapland 927, Vrystaat 1106, Rhodes 1138, Skiereiland ( Tegnologie) 1593, Noordwes 1668, Tshwane (Tegnologie) 1717, Durban ( Tegnologie ) 1856, Fort Hare 2339, Limpopo 2710, Nelson Mandela 2715, Venda 2941, Vaal ( Tegnologie ) 3198, Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe 3270, Sentraal ( Tegnologie) 3570, Walter Sisulu 3761, Mpumalanga 7935, Mangosuthu (Tegnologie) en Sol Plaatjie ( 9459).

Ten opsigte van graderings vir die res van die universiteite op aarde, wat grootliks ooreenstem met ander graderings, is die top universiteit ter wêreld Harvard in Amerika. Gevolg deur Stanford, Massachusetts, California Berkeley, Oxford, Michigan, Washington, Cornnell, Columbia, en John Hopkins. Nege uit die top tien in die VSA. Die Universiteit Cambridge in Brittanje is 12e.

Wat beteken die graderings ten opsigte van die gehalte van Suid-Afrikaanse Universiteite? Sekerlik nie ‘n aanduiding dat hulle van die beste ter wêreld is nie, maar gegewe die realiteit dat hulle saam met 31-duisend ander beoordeel is, is dit in die algemeen nie ‘n slegte prestasie nie. Waar daar duidelik plek vir verbetering is, is onder die Suid-Afrikaanse universiteite onderling. Hoe hulle teenoor mekaar opweeg is nogal insiggewend.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button