South Coast Fever

Wouter se Watergat

Dit wat Suid-Afrikaners oor rassegrense heen laat goed voel. Soos sport. Een van die min dinge wat die swartgalligheid verlig en die aandag aftrek van die politieke gemors.

Die gesprekke hier in die Watergat is deesdae deurspek van swartgalligheid, frustrasie, woede en selfs wanhopigheid. Veral wannneer daar ‘n rustigheid intree namate ‘n skuimkop of twee sy werk doen, hoor Oom Pottie en ek wat in mense se binneste aangaan oor wat in ons land aan die gebeur is. Die politieke faktor is dominant.

Ons hoor dit van dag tot dag, maar is nietemin dankbaar vir mense wat rasioneel redeneer en nog die positiewe raaksien. Dit wat Suid-Afrikaners oor rassegrense heen laat goed voel. Soos sport. Een van die min dinge wat die swartgalligheid verlig en die aandag aftrek van die politieke gemors.

Vroulief het al vir my gesê ek skryf te veel oor sport, by name rugby en krieket, en mense word moeg daarvoor. My antwoord was as ek die sentimente oor die land wat daagliks hier in die Watergat uitgespreek word, getrou moet weergee, sal dit die swaarmoedigheid onder lesers bloot vererger. Daarom hou ek maar by sport-onderwerpe, veral rugby en krieket, wat gereeld die gemoedere van Watergat-besoekers opkikker sodra ons die Tv’s op sportkanale inskakel.

Dit beteken nie dat daar nie groot frustrasie en teleurstelling, hoewel op ‘n heel ander vlak, is nie. Verlede naweek was daar ‘n gekreun en ‘n geween toe die Sharks vir die soveelste keer verloor het. Ek het voorheen verwys na die afrigtings-aspek, gemeen Neil Powell as direkteur van rugby kan nie ook Shaun Everitt se skoene volstaan nie, en het met belangstelling kennis geneem dat John Plumtree dalk op pad terug is na Durban, al is dit net tydelik. Want so kan dit nie aangaan nie, veral nie met al die groot name in die span nie. Vincent Koch kom glo ook hierheen.

Hier was ‘n groep Blou Bul-ondersteuners toe die Lions hul se tjank in Pretoria afgetrap het. Hulle kon eenvoudig nie verstaan hoe ‘n span soos die Lions die Bulle, met al hul groot name, op Loftus so oortuigend kon klop nie. Oom Pottie se blydskap het natuurlik geen perke geken nie, en het die Blou Bul-mense ingelig die rede is die Lions se jong, uiters talentvolle span begin nou sy volle potensiaal tentoonstel, ten spyte van vraagtekens oor die span se afrigtingspan. Ek moet erken, van daardie jong Leeus is menere. Hulle gaan vorentoe nog hard brul.

Ons loopstorie kom van een van die Pretorianers, Gawie Terblanche. ‘n Cowboy bestel drie biere. Hy drink hulle, en bestel nog drie. Hy verduidelik hy het twee broers elders, en hulle het destyds besluit waar hulle ookal is, sal hulle drie biere drink ter herinnering aan die dae toe hulle nog saam bier gedrink het. Die cowboy hou maande lank by dieselfde ritueel, maar op ‘n dag kom hy weer, en bestel net twee biere. ‘n Simpatieke, gevoelvolle stilte daal neer. ‘Jammer oor jou verlies’, verklaar die kroegman. Ons is rêrig jammer.’ ‘Nee, nee, dis nie wat julle dink nie. My vrou en ek het begin kerk toe gaan, en drink glad nie meer nie. Dit het egter niks met my broers te doen nie.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button