South Coast Fever

Slaap-apnee: Die siekte wat jou stil-stil bekruip, en dikwels doodmaak

Dis ooglopend nie ‘n siekte om mee te speel nie. Statistieke bewys mense gaan dood daaraan sonder dat hulle bewus is hulle ly daaraan.

Die uwe was sy hele lewe lank met goeie gesondheid geseën, hoewel daar periodiek onaangename kwale was. Een van hulle was die diagnosering van slaap-apnee.

Lank gelede het vroulief begin kla dat ek snork. Ook diegene wat by geleentheid kamermaats in hotelle was tydens nuussendings het opgemerk dat ek baie ‘raserig’ slaap. Ek wou dit nie glo nie, want ek het self geen aanduiding gehad dat daar iets verkeerd is nie. Totdat ‘n kollega wat saam met my in ‘n hotel in die buiteland was, met ‘n kamera ‘n opname gemaak en dit die volgende oggend aan my teruggespeel het. Ek kon dit nie glo nie. Geen mens bring mos sulke onaardse geluide voort nie? Nietemin daarvan kennis geneem, maar met my lewe aangegaan, ten spyte daarvan dat my wederhelfte elke nou en dan gevra het dat ek iets moet doen aan my snorkery.

Namate die jare aangestap het, het my snorkery my self erg begin gepla. My verhemelte het gesak, en wanneer ek wakker word, na my asem gesnak. Ek kon egter daarmee saamleef, aanvaar ek kon niks daaraan doen nie, en het met my lewe aangegaan. Tot sowat tien jaar gelede. My twee seuns en ek was op besoek aan ons geliefde Kruger-wildtuin, toe albei van hulle na die eerste se saamslaap in ‘n hut die volgende oggend ernstig met my gepraat het. ‘Pa, jy moet ‘n dokter gaan spreek. Daar is iets ernstig verkeerd. Pa snork en snak na pa se asem, en Pa hou by tye op asemhaal. Ons het kwaai geskrik, want dit neem ‘n rukkie voordat Pa se asemhaling normaal is, net om deur dieselfde siklus te gaan’.

Ek het toe besef dis nou of nooit, en ‘n oor, neus en keelspesialis in Port Shepstone gaan sien. Sy het my ‘n gewrigtoestelletjie gegee om mee te gaan slaap, en gevra om dit die volgende dag na haar terug te bring. Haar terugvoer-data van die monitortjie het sy in haar rekenaar ingevoer, en die bevinding was dat ek slaap-apnee in die ergste graad gehad het. Op haar aanbeveling het ek ‘n masjientjie aangeskaf wat op my bedtafeltjie staan, en wat my asemhaling aanhelp met die gebruik van ‘n gesigmasker. Vars lug word in my longe in geblaas, teen verskillende sterktes na gelang van omstandighede. Gelukkig het die mediese fonds die koste van sowat R14 000 gedek.

Ek het die ongemak van die masker en konneksiepyp gewoond geraak, en sommer vroeg reeds die verskil in my lewe gevoel. Ek het nie meer so moeg in die middae gevoel nie, goed geslaap, nooit weer na my asem gesnak nie, en my snorkery het binne ‘n jaar heeltemal verdwyn. Terugvoere met behulp van die masjientjie se geheuekaart het getoon my slaappatroon is nou normaal, en hy doen sy werk.

Internasionale mediese organisasies identifiseer drie soorte slaap-apnee: 1. Obstruktiewe slaap-apnee, die meer algemene soort wanneer die keelspiere ontspan en die lugvloei na die longe blokkeer. 2. Sentrale slaap-apnee, wat voorkom wanneer die brein nie behoorlike seine na die spiere wat asemhaling beheer, stuur nie. 3. Komplekse slaap-apnee, wat gebeur wanneer mense wat behandeling vir nommer 1 kry, se toestand verander in voorbeeld nommer 2.

Die volgende opsomming van simptome is verskaf deur die Mayo-kliniek: Luide gesnork. Die pasiënt sal al harder begin snork totdat die asemhaling ophou, heeltemal stil lê vir ‘n tyd, en dan met ‘n harde gesnork weer begin asemhaal wanneer die asemhalingsentrum in die brein so suurstof-honger raak dat die brein die pasiënt wakker maak om asem te haal. Hulle slaap dus nooit uit nie en bereik nooit die vlak van sg. REM-slaap (“rapid eye movement”) wanneer ‘n mens droom en diep uitrus nie.

Slaap-apnee kom in verskillende grade voor. In ernstige gevalle sal die pasiënt so ‘n suurstoftekort opbou dat hy blou word. Wanneer iemand 5 keer per uur of meer ophou asemhaal, is dit ‘n aanduiding dat dit slaap-apnee kan wees. Die volgende probleme kom algemeen voor by pasiënte met slaap-apnee. 1. Chroniese moegheid: Hulle slaap nooit lank genoeg om uit te rus nie – word aanhoudend wakker om asem te haal. 2. Verlies van konsentrasie. 3.Hulle raak baie maklik aan die slaap gedurende die dag: voor die televisie, in geselskap, selfs later terwyl hulle eet of motor bestuur. 4. Depressie. 5.Ernstige gewigstoename en onvermoë om dit weer te verminder. 6. Onvermoë om bloeddruk en bloedglukose te beheer, selfs op medikasie. 7.Slaap-apnee kan op sy eie diabetes laat ontstaan. 8. Spierswakheid. 9.Geheueverlies. 10. Versnelling van die prosesse wat skade aan die bloedvate veroorsaak: lei dus tot ‘n hoër voorkoms van hartaanvalle, beroertes, onreëlmatige hartklop, en verlies van seksuele funksie.

Dis ooglopend nie ‘n siekte om mee te speel nie. Statistieke bewys mense gaan dood daaraan sonder dat hulle bewus is hulle ly daaraan. Mense wat bg. gelees het, sal minstens nie reageer soos ekself toe die geneesheer my meedeel ek ly daaraan nie: ‘Slaap-apnee. Wat’s dit?’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button