South Coast Fever

Wouter se Watergat

Ons gaan nie veel sport praat vandeesweek nie, behalwe om die Pumas geluk te wens met ‘n monumentale oorwinning.

Omdat ons so min kans kry om die Suidkus te verken, al bly ons hier, weens die aard van ons werk, het Oom Pottie en ek verlede Sondag in sy rooi 1984-Cressida geklim, met die snelweg tot in Hibberdene gery, daarna met die ou kuspad tot in Southbroom, en met die tolpad na Port Edward. Ons wou vasstel hoe gaan dit deesdae met ons kus. Veral omdat daar soveel klagtes oor swak dienslewering is.

Gelukkig was dit ‘n lekker dag, met redelik min verkeer, en ons kon rustig ry en waarneem. Hibberdene bly maar ‘n teleurstelling. Dit lyk maar valerig en van die inwoners wat ons periodiek besoek, het ons meegedeel hoewel daar op plekke verbeterings is, is daar sedert ‘n hele paar jaar gelede ‘n soort algemene stagnasie. Eiendomme verkoop nie maklik nie en die eerstydse lewendige, gewilde vakansiestrand het sy fut verloor. Beurtkrag eis ook sy tol onder die sake-ondernemings. Wat ons baie beindruk het, was die algemene vernuwing wat ons van Shelly Beach tot in Margate bespeur het. Blykbaar grootliks te danke aan die organisasie Tidy Towns van Stephen Herbst. Die vrywilligers van die organisasie het ‘n reuse-taak verrig om die Ray Nkonyeni-munisipaliteit by te staan met onderhoud en hernuwing.

Die strandfront by Margate is skoon, netjies, en ons het nêrens tekens van verval gesien nie. ‘n Goeie voorbeeld van wat reeds in die res van die land aan die gebeur is waar gemeenskappe self die verantwoordelikheid neem om hul omgewing te hernuwe en verfraai. Suid van Margate was Ramsgate en St. Michael’s se strande mooi skoon met talle drawwers en swemmers, Southbroom nog sy elegante, ekslusiewe self, en strande soos Marina Beach steeds indrukwekkend en gesellig. In Port Edward het alles soos voorheen van buite gelyk, hoewel van ons besoekers uit daardie oord by ons kla dat die gebrek aan water oor lang tye ‘n uiters ernstige probleem is.

Ons gaan nie veel sport praat vandeesweek nie, behalwe om die Pumas geluk te wens met ‘n monumentale oorwinning. Ook die WP en die Sharks te komplimenteer, en met die Bulle, Lions en Griffons te simpatiseer na aanleiding van hul Curriebeker-vertonings. Pottie is tjoepstil. Sy geliefde span het weer gesneuwel.

Die storie van die week kom van Choppie de Wet van Bloemfontein: Julius Malema en Cyril Ramaphosa stap saam ‘n winkel binne. Malema steel drie sjokoladestafies onderwyl hulle rondkyk, en buite die winkel sê Julius aan Cyril: ‘Ek is die beste dief…ek het drie stafies sjokolade gesteel en niemand het my gesien nie.’ ‘Wil jy iets beter sien?’, vra Cyril. ‘Kom ons gaan terug dan wys ek jou.’
In die winkel vra Cyril die eienaar of hy hom ‘n toorkunsvertoning uit die boonste rakke kan gee. Die eienaar stem in, Cyril vat ‘n sjokoladestafie, haal die omhulsel af en eet dit op. Hy doen dieselfde met nog twee. ‘Nou waar is die sogenaamde toorkuns waarvan jy gepraat het?’ , vra die winkelier. Met ‘n groot glimlag hy na die winkelier: ‘Voel in my vriend se sak. Sal jy aldrie daar kry.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button