South Coast Fever

Stiltetyd: Armoede

Die Bybel leer in Spreuke 22:2 dat rykes en armes dit in gemeen het, naamlik dat die Here hulle almal gemaak het.

Arm, maar geduldig dankie. So het die “ou mense” mekaar mos soms gegroet. Om oor die saak van armoede te gesels vra moed. Armoede het ’n manier om mense minderwaardig te laat voel. Daar is sekerlik talle definisies vir armoede maar een van daardie definisies lui so: “Armoede is die status waarin ‘n individu(e) verkeer wanneer die persoon of persone nie hul eie, sowel as die mense wat afhanklik van hulle is, se basiese ekonomiese behoeftes kan bevredig nie. Die mense sukkel dus om te oorleef in ‘n moderne samelewing.”
Die Bybel leer in Spreuke 22:2 dat rykes en armes dit in gemeen het, naamlik dat die Here hulle almal gemaak het. Dit is nie ’n stelling wat ongelykheid tussen mense in sement giet nie, maar herinner ons daaraan dat mense, ongeag hulle status in die samelewing, voor die Here gelykwaardig is. Almal is beelddraers van die Here. In Openbaring 2:9 skryf die Here Jesus Christus aan Sy gemeente in Smirna onder andere: “Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk.”

Smirna, wat vandag Ismar heet, was destyds ’n baie ryk stad. Die inwoners het skatryk geword vanweë hulle noue band met die Romeinse Ryk en sy gode. Tog was daar ook ongelykheid in die samelewing soos vandag. Die gelowiges in Smirna was nie arm omdat hulle ongeskoold of lui was nie. Hulle was die slagoffers van ’n skinderveldtog, wat hul Christenskap onder verdenking geplaas het. Nou is dit so dat jy iets goeds van iemand kan vertel maar dit gaan dikwels nie verder as dit nie. Skinder jy egter van iemand kry daardie storie vlerke.

In Smirna se geval het die Christene gely onder laster en vervolging en in die geval van sakemense die boikot van besighede, of strooptogte wat op hul besighede uitgevoer is. Hul swaarkry, armoede en ander ontberings het Christus nie verbygegaan nie. Hy noem hulle arm en tog ryk. Hulle status in die samelewing was laag, maar hulle was geag by die Here. Daar is vandag baie redes vir armoede. Een ding staan soos ’n kop bo water; Jy kan brandarm wees en tog ryk, ryk voor God. In ‘n materialistiese samelewing is dit iets om oor na te dink.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button