Majuba – die veldslag wat die Britse Ryk geskud het
Generaal Sir George Pomeroy Colley (1835 - 1881) was die bevelvoerder van alle Britse magte in Suider-Afrika asook die Hoë kommissaris van die Britse regering en Goewerneur van Natal. Generaal Piet Joubert (1831 - 1900) was die Kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Vandeesweek roep ek die veldslag op die berg Majuba in KZN in 1881 in herinnering as deel van my strewe om hierdie rubriek so vol verskeidenheid en interessant as moontlik te maak. Dit was die laaste van vier belangrike veldslae in die Eerste Vryheids- of Anglo-Boere-oorlog, wat skaars drie maande geduur en die Britse Ryk tot in sy fondamente geskud het.
Weens gebrek aan ruimte kan daar nie in te veel besonderhede ingegaan word nie, maar die grondliggende oorsaak van die oorlog was die anneksasie van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal ) op 12 April 1877, deur Brittanje, onder leiding van Sir Theophilus Shepstone, die destydse goewerneur van Natal, strydig met die Sandrivier-konvensie meer as 30 jaar vroeër ingevolge waarvan onafhanklikheid aan die ZAR toegestaan is. Na vele vrugtelose onderhandelings word op 13 Desember 1880 tydens ‘n volksvergadering by Paardekraal besluit om te veg vir onafhanklikheid.
Generaal Sir George Pomeroy Colley (1835 – 1881) was die bevelvoerder van alle Britse magte in Suider-Afrika asook die Hoë kommissaris van die Britse regering en Goewerneur van Natal. Generaal Piet Joubert (1831 – 1900) was die Kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek. In November 1880 het die eerste openlike konflik tussen die Boere en Brittanje op Potchefstroom plaasgevind. P.L. Bezuidenhout het geweier om ekstra fooie te betaal op sy ossewa deur te sê dat hy reeds sy belasting betaal het. Die Britse owerhede het die wa gekonfiskeer, waarna 100 manne onder leiding van Genl. Joubert die wa gaan terugneem en aan Bezuidenhout terugbesorg het.
Hierna volg vier veldslae, beginnende met die slag van Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880. Luitenant –kolonel PR Anstruther was met sy 94e regiment op mars vanaf Lydenburg. Sy opdrag was om hom aan te sluit by die Britse magte in Pretoria, en die Boere wou dit verhoed. By Bronkhorstspruit word die Britte ingewag deur ‘n mag onder aanvoering van Kommandant Frans Joubert. ‘n Kort maar hewige geveg breek uit tussen hul 250 man en die Britte se sowat 270. Ses-en-vyftig van die Britte sneuwel en 91 is gewond, van wie 21 later sterf. Aan Boerekant is twee dood en vyf gewond. Anstruther is onder die gewondes en sterf ‘n week later.
Die volgende veldslae was almal in die destydse Natal. Teen 28 Januarie 1881, op die heuwelrug van Laiingsnek, oos van Majuba, het sowat 1 500 Boere hulle deeglik ingegrawe onder die bevel van Kommandant=-generaal Piet Joubert. Generaal Colley het hulle met meer as duisend man en 6 veldkanonne aangeval, maar is verpletterend verslaan. Drie-en-tagtig Britte het gesneuwel en 111 is gewond. Aan Boerekant het 14 gesterf en is 27 gewond.
Die slag van Ingogo/Skuinshoogte volg op 8 Februarie. Generaal Colley se mag van sowat 300 man raak slaags met ‘n infanteriemag van die ZAR van tussen 300 en 500 man. Die Britse verliese was 69 soldate en 7 offisiere dood, en 64 soldate en drie offisiere gewond.
Hierna het Generaal Colley nog 2 000 man laat kom. Hy wou die berg Majuba beset om daarvandaan die Boere se stellings te bespied. Op Saterdagaand 26 Februarie het die Britte met ‘n 8 kilometer draai die berg begin bestyg sodat die Boere hulle nie opmerk nie, nie ‘n maklike taak nie, want in die donkerte met geen maan en geen lig was die steiltes, vertikale roste en los klippe angswekkend. Teen 5-uur is al die uitgeputte soldate oral op die kruin versprei. Colley is in sy skik, die Britte rig hulle in, en gaan die Sondag rustend en slapend in.
Net na dagbreek sien Kommandant-Generaal Piet Joubert se vrou van die Britte op die berg, en maak alarm. Generaal Joubert se opdrag is: ‘Gaan haal hulle af’. Die manne word in drie groepe verdeel. Almal bo 50, die mees ervare skuts skuil agter die rotse van die eerste plato en hulle skiet die Britte sodra hulle hulle koppe uitsteek.
Die res van die Boeremag beweeg so vinnig as moontliik boontoe. Struik na struik, rots na rots, oor ‘n tydperk van ses ure. Onderwyl Colley met sy tweede-in-bevel, Kommandeur Francis Rommily praat, word lg. dodelik in die rug getref deur ‘n verskuilde burger se koeël. Hierna volg ‘n geveg van sowat 20 minute. Groot verwarring heers onder die Britte en hulle word die een na die ander platgeskiet. Onder hulle Generaal Colley met ‘n skoot net bokant sy regteroog. Uiteindelik sneuwel 92 Britte, word 134 gewond, en 59 gevange geneem. Aan Boerekant is slegs een op Majuba dood, ene H. Bekker. K. Groenwald sterf 6 maande later aan sy wonde. Generaal Colley is dieselfde dag op die berg begrawe.
Op 23 Maart 1881, vandag 142 jaar gelede, word die vredes-ooreenkoms in ene-O’Neill se huisie op die plaas Stonewall teen die hange van Majubaberg geteken . Die Britte kon hul nederlae nie vergeet nie, en die strydkreet het by hulle gebly tot en met die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
