Stiltetyd: Kompromieë of nie
Hoe ook al, waar die troon van Satan is, is ook die troon van Christus.
Dit is een ding om in die misdaad-hoofstad van ’n land te woon. Dit is ’n ander ding om te woon in die plek waar die troon van die Satan geleë is. Hoe sou dit wees om in so ’n plek te woon? Hoe keer mens dat jy nie gekompromitteer word deur die heersende kultuur wat anti-Christelik of vyandig teenoor die Christelike boodskap staan nie?
In Openbaring 2:13 lees ons juis van ’n goddelose stad genaamd Pergamum. Dit was die destydse hoofstad van Klein-Asië. Daar is die kuns ontdek om op gebreide dierevelle te skryf. Geen wonder dat hulle die skryfvelle perkament (na Pergamum) genoem het nie. Daar was ook ’n reuse-biblioteek wat derduisende perkamente bevat het. Omdat dit so ’n sleutel stad was, is die eerste tempel vir die aanbidding van die keiser daar opgerig. Daar was ook ander tempels, naamlik die vir Athene, Dionisius en Asklepius, die god van genesing. Daar was dus ’n oorheersende teenwoordigheid van die Romeinse owerheid en heidense godsdienste. Met reg is die plek die hoofstad van goddeloosheid genoem.
Hoe tree gelowiges op onder sulke omstandighede? Jy kan natuurlik deel word van die boosheid en korrupsie en algemene goddeloosheid. Jy kan kompromieë aangaan, of jy kan steeds getuie vir Christus bly. Die gelowiges in Pergamum word geprys daarvoor dat hulle Christus nie verloën het nie, al was die stad die troon van die Satan genoem.
Tog was daar ’n paar wat kompromieë aangegaan het om “relevant” te bly. Sekere gebruike wat strydig was met die boodskap van Christus is aangegaan. Hulle wou graag ”in” wees en nie as pretbederwers bekend staan nie. Hoe gemaak in sulke omstandighede? Jy kan wegbly van plekke waar die waardes van die Bybel nie geëer word nie, of jy kan besluit om bv. deel te wees van die beplanning van die werk se afskeidspartytjie waar die reëls is dat drank nie misbruik sal word nie.
Hoe ook al, waar die troon van Satan is, is ook die troon van Christus. Daar is nie ’n millimeter in die skepping waar hy nie regeer nie. Om dit te onthou, help gelowiges om nie kompromieë met die boodskap van Christus aan te gaan nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
