“Jy is heeltemal te seker van jou saak,” sê iemand aan ’n oorgeruste en effens arrogante man. Mens kan so ’n lewenshouding met die woord “oormoed” beskryf. Dit is reg dat mense geleer word om nie onseker oor hulself te wees of die hele tyd te weifel oor ’n saak nie. Oorgerustheid kan egter maak dat jy sekere belangrike rigtingwysers miskyk. So kan iemand wat oorgerus is van sy eie finansiële oordeel en die raad van ander in die wind slaan, homself lelik misgis en swak finansiële besluite neem wat hom duur te staan kom op die lange duur.
Ons merk dit soms by politici wat so seker is van hul eie standpunt dat hul al die gevaartekens miskyk. Oorgerustheid maak dat jy die gevaartekens in ’n ongesonde verhouding miskyk. Jy merk dit ook op by gelowige mense dat hulle oorgerus kan raak. Hulle reken soos die apostel Petrus in die Bybel dat hulle nooit hulle Here sal verloën nie en dan gebeur dit.
Daar was ’n gemeente in die Bybel wat ook oorgerus was. Die gemeente se naam was Sardis. Die gemeente waarvan ons in Openbaring 3:1-6 lees, was ’n replika van die stad. Sardis was een van die veiligste stede van die ou tyd, gebou op die uitloper van ’n berg, omring deur loodregte kranse ongeveer vyfhonderd meter hoog. Dit was prakties oninneembaar behalwe as die wagte nie daar op hul pos was nie. Dit het twee keer in die stad se geskiedenis gebeur. Dit het die trotse stad swaar getref en ’n nuwe stad is in die nabyheid gebou. In 17 n.C. het ’n vernietigende aardbewing Sardis getref, maar met die hulp van die keiser is die stad herbou.
Die onwaarskynlike of onvoorsiene het die stad ’n paar keer getref. Toe hulle dit die minste verwag het. Die apostel Johannes herinner die gelowiges in Sardis om nooit oorgerus te word nie. Hulle moet ook nie hul verhouding met Christus verwaarloos en biddeloos raak nie. Ek weet nie wat jou oorgerus maak vandag nie. Onthou dat ons enigste troos in lewe en sterwe is dat ons aan Jesus Christus behoort. As jy dit vergeet, het jy soos die kerk in Sardis oorgerus, houtgerus geraak.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
