South Coast Fever

Is ‘Whataboutism’ sommige Suid-Afrikaners se beste argument?

Dit het my laat dink aan ‘n Facebook-skryfsel van my gunsteling- Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer, Dana Snyman. Ek het voorheen daarna verwys, en ek plaas dit hier. Die opskrif is ‘Miskien ken jy hom ook’.

Ons lewe in tye van belangrike gebeurtenisse, sowel binnelands as in die res van die wêreld, gebeurtenisse wat ons dalk regstreeks raak, veral dié in Suid-Afrika self. Of dit nou wel so is of nie, ons het almal sterk menings oor sake, en talle van ons maak staat op die sosiale media en die internet om veral inligting oor buitelandse gebeure te bekom. Ons skroom nie om daardie menings bekend te maak, en van mense te verskil wat nie dieselfde standpunte het nie.

Dit is veral opmerklik op sosiale media-platforms soos Twitter en Facebook. Dit lyk asof sommige Suid-Afrikaners nie kan wag om hul menings oor sake op elke moontlike sosiale media-platform te lug nie. Soms met beledigende taalgebruik sonders aansiens des persoons. Die uwe is ‘n lid van die Facebookgroep Nagkantoor, ‘n platform wat basies vir joernaliste in die lewe geroep is sodat hulle staaltjies, ervarings en gedagtes ivm. met hulle beroep kan deel. Nie-joernaliste kan ook deelneem aan gesprekke en kommentaar op insetsels lewer. Baie van hulle doen dit met weldeurdagte argumente en vertellings, maar dan is daar ‘n aantal wat infoeter en hul politieke en ideologiese sienswyses op elke moontlike manier en met kru taalgebruik oordra. Soms so kwaai dat hulle van die groep verwyder moet word.

Dit het my laat dink aan ‘n Facebook-skryfsel van my gunsteling- Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer, Dana Snyman. Ek het voorheen daarna verwys, en ek plaas dit hier. Die opskrif is ‘Miskien ken jy hom ook’:

“Sê jy vir hom die Russiese inval in Ukraïne is ’n tragedie en ’n verskrikking en Wladimir Poetin het te ver gegaan, sê hy vir jou hoekom het jy niks gesê toe die Navo-magte Kosovo ingeval het nie. Buitendien, Poetin staan op teen die nuwewêredorde. Dis hoekom die Weste so teen hom is. Sê jy vir hom maar wat van die kinders en vroue en ander onskuldiges wat in Ukraïne doodgemaak word, vra jou of jy gesien het wat die Amerikaners alles in Irak gedoen. As Donald Trump nog die president van Amerika was, sou Poetin nie sy magte opdrag gegee het om Ukraïne in te val nie. Sê jy vir hom jy dink Trump is ’n narsis wat net nie kan aanvaar hy het verlede jaar se presidentsverkiesing verloor nie, sê hy hoekom sê jy niks oor Cyril Ramaphosa, wat die ANC-afgevaardigdes moes omkoop om vir hom te stem nie. Jy kyk te veel CNN, dis hoekom jy nie van Trump hou nie. Sê jy vir hom jy dink dis die regte ding om jou teen die Covid-19 virus te laat inent, sê hy vir jou dis tyd dat jy jou eie navorsing doen. Buitendien, die regering kan hom nie dwing om hom te laat inent nie. Hy staan op sy regte, sy individuele vryheid. Vra jy vir hom hoekom was hy vir soveel jare stil toe miljoene Suid-Afrikaners se individuele vryheid erg ingekort is, sê hy vir jou hoekom sê jy niks oor plaasmoorde nie. Dis tyd dat die regering die doodstraf terugbring.

Sê jy vir hom om ’n bepaalde onderwerp oor en oor te google is nie navorsing nie, sê hy vir jou ’n mens kan die hoofstroommedia nie meer vertrou nie. Joernaliste sê of skryf wat die mediabase sê hulle moet sê of skryf. Hulle soek net sensasie. Sê jy vir hom Sharpeville, vra hy wat van Marikana. Sê jy vir hom Steve, vra hy wat van Rian. Sê jy vir hom jy dink Markus Jooste hoort in die tronk, vra hy wat van die Guptas? Hoekom is húlle nog nie in die tronk nie? Jooste het minstens nie uit die land gevlug nie. Vra jy vir hom hoekom betaal hy nie sy spoedkaartjies nie, sê hy vir jou hoekom gaan vra jy nie eerder vir die ANC hoekom steel hulle die land bankrot nie? Kyk al die wetteloosheid. Dis tyd dat lyfstraf teruggebring word in die skole.

Sê jy vir hom maar wat van Matthéüs 22 vers 37, vra hy wat van Levítikus 18 vers 22. Vra jy vir hom hoekom het hy na oud-pres. FW de Klerk en aartsbiskop Desmond Tutu se dood sulke liederlike dinge oor hulle op Facebook geskryf, sê hy is moeg vir mense wat hom wil laat skuldig voel omdat hy wit is. Hy is moeg vir die linkses, die libtards wat dink hulle is beter as ander. Sê eerder iets oor Malema. Vra jy hom of hy weet wat is whatsaboutism, sê hy hy steur hom nie aan polities korrekte snert en wokeness nie. Moontlik het jy hom ook al teëgekom: Die hedendaagse Bart Nel, die man wat alles geword het wat hy nie is nie.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button