South Coast Fever

Stiltetyd: Die Sleuteldraer

Sleutels roep allerhande assosiasies by mens op.

“As een deur toegaan, gaan ’n ander deur oop.” Die gesegde kan mens met Filadelfia assosieer. Die naam Filadelfia sal dalk by sommige ’n klokkie laat lui en hulle herinner aan die bekende lied van die sanger Bruce Springsteen met die naam: “The streets of Philadelphia.” Die naam Filadelfia beteken letterlik “broederliefde.” In die Bybelboek Openbaring was daar ’n gemeente met die naam Filadelfia. Ons lees van hulle in Openbaring 3:7-13.

In Openbaring 3:7 word van sleutels melding gemaak: “Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit en niemand sal dit oopmaak nie.” Sleutels roep allerhande assosiasies by mens op. ’n Persoon met ’n bos sleutels in die hand, kan die idee van sukses of verantwoordelikheid by mens na vore roep. Dit kan ook dui op deure van geleenthede wat vir mense oop op toe gaan. Dink aan uitdrukkings soos: Die sleutel na my hart, of die stad se sleutel, die sleutelspeler, ensomeer.

Filadelfia was geleë op ’n sleutel-posroete en die Romeinse soldate het deur Filadelfia beweeg. Die stad is ook opgerig om die Griekse taal en kultuur te bevorder. In hierdie belangrike stad was daar ook ’n gemeente van Christus. Dit was skynbaar ’n klein groepie gelowiges wat daardie saak van Christus verteenwoordig het. Hulle is ook uitgesluit uit sekere kringe. Deure het vir hulle toegegaan.

Tog word hulle daaraan herinner aan die een wat deure oopmaak en toemaak, die een wat uiteindelik die sleuteldraer is en geleenthede skep of mense verhinder om hulle planne uit te voer. Kortom, Christus is die Een wat deure kan oop of toemaak voor mens. Hy is Christus, die Sleuteldraer. Ons ken mos die gesegde wat onder andere aan aan Alexander Graham Bell, maar ook andere toegedig word: “As een deur toegaan, gaan ’n ander deur oop.” Hy het ook bygevoeg dat mens jou so kan blindstaar teen die toe deurdat jy die oop deur van geleentheid nie raaksien nie. Bell het na talle probeerslae, die telefoon as instrument van kommunikasie moontlik gemaak. Moet jou nie blindstaar teen die spreekwoordelike toe deure in jou lewe nie. Vertrou Christus, die een wat deure kan oopmaak en toesluit.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button