South Coast Fever

Wouter se Watergat

Die Vrystaters was uiteraard baie bly oor oorwinnings te midde van hul B-span se nederlaag, en ons Shark-ondersteuners se swartgalligheid is ietwat verlig met die goeie oorwinning oor Harlequins.

Ai, dis te lekker om ‘n Watergat vol Vrystaters en Gautengers te hê. Die eerste keer in drie jaar sedert die Covid-epidemie alles kom opfoeter het, was ons ses dae na mekaar tjok-en-blok vol. Toegegee, die skole het vakansie, maar dit is hoe dit altyd in die verlede was met die aanloop tot die Paasnaweek. Vroulief moes bontstaan om elke dag genoeg porsies van haar spesialisdis van die dag voor te berei. Veral die kerrie-afval was teen drie-uur die middag uitverkoop, en afval is nie iets wat jy sommer binne ‘n paar uur kan aanvul nie. Ewenwel, ons is in ons noppies. Hoop die ander kuierplekke op die Suidkus ervaar dieselfde voorspoed.

Omdat hier so baie besoekers uit ander dele van die land was, veral uit die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga, die tuiste van die Pumas, is daar natuurlik rugby gekyk en gepraat, tot vervelens toe. Met verlede naweek se oormaat rugby het ons te min TV-stelle gehad om die wedstryde wat tegelyk gespeel is, te volg. Die gesprekke was by tye lewendig en manne het warm onder die kraag geraak. Veral die Pretorianers wat nie kan verstaan waarom hul span nou nege wedstryde in ‘n ry verloor het nie. En waarom Jake White verklaar het hy is nie bekommerd nie.

Die Vrystaters was uiteraard baie bly oor oorwinnings te midde van hul B-span se nederlaag, en ons Shark-ondersteuners se swartgalligheid is ietwat verlig met die goeie oorwinning oor Harlequins. Die paar Puma-ondersteuners wat hier ingeloer het was in die wolke oor hul span se goeie vertonings. ‘Die Curriebeker bly in Nelspruit’, was hul versekering. Hoop nogal so. Nodeloos om te sê, Oom Pottie is dae lank reeds op ‘n wolkie van sy eie oor die Lions se skittervertonings verlede naweek. Hy kla net oor die swak bywoning deur toeskouers. ‘Ek skaam my, Woutie’, was sy kommentaar toe die eerste wedstryd verlede Saterdag aan die gang was. ‘Die plek het ‘n eggo!’

Ons loopstorie het Pottiei iewers gehoor: ‘n Man wat 15 jaar op ‘n eiland gestrand is, sien iets op die horison. Hy kan nie uitmaak wat dit is nie tot daar ‘n ongelooflike mooi blondine uit die branders opstaan met ‘n duikpak en al die toerusting.
Sy staan nader en vra ” wanneer laas het jy ‘n sigaret gerook?” terwyl sy ‘n pakkie Camel en ‘n sakvlam uit ‘n waterdigte sakkie van haar duikpak haal. “Vyftien jaar gelede!” sê hy terwyl hy ‘n sigaret aansteek en behaaglik stadig sy longe vol trek. “En wanneer laas het jy ‘n goeie dop Bourbon gedrink?” vra sy terwyl sy vir hom ‘n glasie skink. “Ook 15 jaar terug” sê hy terwyl hy die drankie stadig drink. Terwyl sy die rits van haar duikpak stadig oopmaak sê sy met ‘n baie verleidelike stemmetjie “. . . en wanneer laas het jy ‘n bietjie rondgespeel?” Terwyl hy van opgewondenheid op en af spring en sy hande vryf sê hy : “Dis ongelooflik! moenie vir my sê jy het nog ‘n gholfstel ook daar iewers weggesteek nie!”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button