Wouter se Watergat
Pottie sê sy besoek aan Ellispark het hom laat besef dat, hoewel daar amptelike ontkennings is, daar interne probleme is.
Oom Pottie het pas teruggekeer van ‘n besoek aan sy suster in Germiston. Hy was soontoe om te kuier, maar ook om ‘n tand-abses te laat verwyder. Hy het ook ‘n draai by sy geliefde Ellispark, nie Emiratespark nie, gemaak om, soos hy dit gestel het, ou kennisse op te soek. Maar meer daaroor later.
Hy kon eerstens nie genoeg kla nie oor die koste deesdae om Johannesburg toe en terug te ry ( hy ignoreer ons kommentaar dat die petrollus van sy 1984-sessilinder Toyota Cressida dit veel erger maak ). Tweedens, oor die koste van die tandoperasie. Gelukkig het hy ‘n goeie mediese fonds, wat die rekening vereffen het, maar hy sê hy kan nie verstaan waarom die hele prosedure R25 000 gekos het nie. “Woutie, ek het nie eens ‘n nag in die hospitaal deurgebring nie. Dit was drie ure in en uit, 30 minute onder narkose, dis al. Toegegee, dit was ‘n snydokter wat dit gedoen het omdat ‘n gewone tandarts weens die aard van die operasie dit nie in sy spreekkamer sou kon doen nie. Maar R13 000 vir die hospitaalkoste? Nee man. En die beste van alles is, die mediese fonds betaal. Verstaan dit gladnie”. Ek ook nie. Dit laat ‘n mens ook net weereens besef hoe bevoorreg mense is wat mediese fondse kan bekostig. Wat doen die miljoene wat sonder ‘n mediese fonds is? Gaan sit in toue by staatshospitale? Daar is goeie hospitale, soos bv. Port Shepstone, maar wat van die meerderheid wat swak diens lewer? En die koste van medisyne? Maak my bang.
Pottie sê sy besoek aan Ellispark het hom laat besef dat, hoewel daar amptelike ontkennings is, daar interne probleme is. Een van sy vertrouelinge is oortuig daarvan die volle omvang gaan eersdaags op die lappe kom. Oor die rugby van sy geliefde Lions praat hy deesdae min. Oor SA rugb y in die algemeen, is daar van die Watergat se kant ook nie veel te verklaar nie. Die Suid-Afrikaners ry wipplank teen die oorsese spanne. Hulle wen goed, dan verloor hulle goed. Soos verlede naweek. Hier by ons was daar onder die besoekers ‘n geweeklaag, want die bestes van oorsee is feitlik deurgaans beter as ons. Veral die Iere. Voorspooksels voor die Wêreldbeker?
Ons loopstorie het Oom Pottie in Johannesburg gehoor, en hoewel dit nie nuut is nie, het dit my laat dink aan die oorsese spanne teen wie ons oor die afgelope tyd verloor het, veral omdat soveel Suid-Afrikaanse topspelers die afgelope tyd beserings opgedoen eht. ‘n Skermutseling het jare gelede op Kanoneiland in die Vaalrivier tussen Korannas en blanke boere plaasgevind.. Die Korannas het hulle goed ingegrawe, maar is deeglik van die oewer af onder die kanonkoeëls gesteek. Hulle was redelik verflenter. Die Koranna-kaptein was egter nog vol lewe, en stel voor hulle betaal die boere in eie munt terug. ‘n Hol kokerboom word vol stukke yster, patrone en plofstof gelaai, in die rigting van die boere gedraai, en ontsteek. Weer is dit net stof en bloed. Toe die kaptein, lewend maar redelik gehawend later bykom, ‘n paar tande en bloed uitspoeg, verklaar hy: ‘As dit hier so lyk, dink net hoe lyk dit daar anderkant!’.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
