South Coast Fever

Is jy besig om Wagter stelselmatig te vergiftig?

‘n Gesprek tussen die uwe en ‘n mede-hondeienaar oor wat toelaatbaar is en wat nie, het my laat soek na betroubare insette oor die saak.

Hondeliefhebbers sal weet daar is kos wat hul diere mag eet en wat nie, maar ek is doodseker daar is sekere potensieël-gevaarlike kosse waarvan ons in die algemeen nie bewus is nie. ‘n Gesprek tussen die uwe en ‘n mede-hondeienaar oor wat toelaatbaar is en wat nie, het my laat soek na betroubare insette oor die saak. Ek het op die internet afgekom op verskeie bronne, een van hulle die Amerikaanse Dierebeskermingsvereniging. En ek moet verklaar, ek was nogal verbaas, siende dat ek gedink het ek weet basies wat hulle nie mag eet of drink nie. Van die bronne verskil in sekere opsigte van mekaar, maar nie soveel dat daar onduidelikheid hoef te wees nie. Die verskille het hoofsaaklik betrekking op die hoeveelhede, en nie die soort kos nie.

Bo-aan die Amerikaanse organisasie se lys van hondverbode items is alkohol. Dit kan braking, maagwerkings, gebrekkige ko-ordinasie, moeilike asemhaling en selfs die dood veroorsaak. Volgende op die lys is avokado, wat ook verbode is vir voëls, konyne/hase, donkies, perde en bokke. Die hoofrede is die hoë vet-inhoud van die vrug wat kan lei tot onder meer ernstige pankreasprobleme. ‘n Klein hoeveelheid sal blykbaar nie skade doen nie, maar die aanbeveling is om dit totaal te vermy. Sjokolade, koffie en kaffeïne is ook verbode omdat dit metielxantiene bevat, wat in kakaosaad voorkom. Dit kan onder meer braking, buitengewone dors en urinering, abnormale hartklop en selfs die dood veroorsaak. Sjokolade vir bak-doeleindes is die gevaarlikste, gevolg deur donker sjokolade. Wit melksjokolade is die minder gevaarlike.

Sitrus akkordeer ook nie met honde nie. Die stingels, blare, skille en sade van sitrusvrugte bevat wisselende hoeveelheide sitrussuur en olies wat onder meer skade aan die sentrale senustelsel kan veroorsaak as dit in betekenisvolle hoeveelhede ingeneem word. Kokosneutvlees en klapperolie is nie skadelik in baie klein hoeveelhede nie, maar dit kan maklik maagongesteldheid, los stoelgang en diarree veroorsaak. Kokoswater/melk het hoë kaliumvlakke en is gevaarlik vir honde. Druiwe en rosyne is volgende op die lys. Die Amerikaanse Dierebeskermingsvereniging sê die toksiese bestanddeel van druiwe en rosyne is onbekend, maar kan nierversaking in honde veroorsaak. Totdat meer duidelikheid verkry word oor die toksiese effek, moet honde nie druiwe of rosyne gevoer word nie. Makadamianeute kan depressie, braking, bewerasie en hipotermie in honde veroorsaak en moet vermy word. Ook neute soos amandels, pekan- en okkerneute bevat hoë olie- en vetvlakke wat diarree, braking en ook pankreatitis in honde veroorsaak.

Melk en suiwelprodukte word ook nie vir honde aanbeveel nie, iets wat my nogal verbaas het want honde is baie lief vir melk. Die rede is troeteldiere het nie betekenisvolle hoeveelhede laktase in hul lywe nie, die ensiem wat laktose in melk afbreek, en dit veroorsaak dikwels diarree en spysverteringsprobleme. Die volgende items op die verbodelys was meer te wagte, naamlik uie, knoffel en grasuie. Diere wat dit inneem kan erge gastroïntestinale probleme ontwikkel wat lei tot rooibloedselskade en bloedarmoede indien betekenisvolle hoeveelhede ingeneem word. Talle mense gaan nie met die volgende saamstem nie, maar dit maak sin. Rou en halfgaarvleis, eiers en bene is ook verbode. Rou vleis en rou eiers kan bakterieë soos Salmonella en E.coli bevat wat skadelik is vir sowel troeteldiere as mense. Rou eiers bevat ‘n ensiem genaamd avidin en die inneem van biotien, ‘n B-vitamiene, kan lei tot velprobleme. Die vereniging sê vir baie mense is dit ‘n natuurlike en gesonde gewoonte om jou hond rou bene te voer. Dit sou egter normaal gewees het indien die dier in ‘n wilde staat was, en rou bene kan baie gevaarlik wees vir ‘n huisdier wat inwendig beseer kan word deur beensplinters, veral hoenderbene. Gekookte bene moet totaal vermy word, en ‘n sterk, groot rou been wat nie stukkend gekou kan word nie, is aanvaarbaar, veral om tandegesondheid te bevorder. Sout- en souterige versnaperings moet vermy word, want groot hoeveelhede sout lei tot uitermaige dors en urinering. ‘n Hond wat te veel sout inkry, begin braak, ontwikkel onder meer diarree, ‘n hoë liggaamstemperatuur, epileptiese tipe aanvalle, en kan sterf. Aartappelskyfies met geurmiddels, pretzels en gesoute pofkoring is taboe.

Die versoeter Xylitol kom in verskeie produkte voor, bv. In lekkergoed, kougom, gebakte eetgoed en selfs tandepasta. Dit lei tot die vrystelling van insulien, wat kan verlaagde suikervlakke en lewerversaking veroorsaak. Die dier begin braak, lyk lusteloos en sukkel met koördinasieprobleme. Lewerversaking ontwikkel gewoonlik binne dae. Nog ‘n taboe is suurdeeg wat gas in ‘n dier se maag meebring. Die maag kan opswel, draai, en ‘n lewensgevaarlike noodgeval kan ontstaan.

Die verskillende bronne stem saam oor die volgende kossoorte indien jou hond nie die gewilde ‘hondepille’ eet wat vryelik beskikbaar is nie: hawermout en mieliepap, witrys, wortels, appels, piesangs, bloubessies, komkommer, groenboontjies, blomkool, waatlemoen sonder pitte, pofkoring sonder suiker of sout, en gaar bees-, hoender- en varkvleis sonder speserye of sout.

Bg. was vir my nogal ‘n interessante oefening, en wonder wat plaaslike vee-artse soos dr. Leon Bruggeman daarvan dink.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button