South Coast Fever

Dominion vs Fox: Die wenner is die waarheid

In verantwoordelike joernalistieke kringe wêreldwyd was daar die afgelope twee weke groot tevredenheid na die skikking tussen Fox News in Amerika en die rekenaar-maatskappy Dominion. Nie weens die skikking nie, maar omdat die kanaal tot verantwoording gedwing is. Fox het buite die hof geskik en $ 787-5 miljoen opgedok. Die kabel-nuusnetwerk is 2021 deur Dominion

In verantwoordelike joernalistieke kringe wêreldwyd was daar die afgelope twee weke groot tevredenheid na die skikking tussen Fox News in Amerika en die rekenaar-maatskappy Dominion. Nie weens die skikking nie, maar omdat die kanaal tot verantwoording gedwing is. Fox het buite die hof geskik en $ 787-5 miljoen opgedok. Die kabel-nuusnetwerk is 2021 deur Dominion gedagvaar vir $1.6-biljoen omdat van sy nuus-ankers nà die Amerikaanse verkiesing in November 2020 volgehou daar was groot verkiesingsbedrog, en dat Donald Trump die verkiesing gewen het. Fox het Dominion se verkiesings-rekenaartoerusting hierby betrek, en kommentare van verskeie pro-Trumpregsmense uitgesaai, waarin ernstige aantygings teen Dominion gemaak is. Om alles te kroon, is Tucker Carlson, een van die hoof-rolspelers by Fox, onderwyl hierdie bydrae geskryf is, summier afgedank.

Die partye het geskik nadat die hofsaak ‘n dag lank uitgestel is. Dit het meegebring dat die 92-jarige Rupert Murdoch, Fox se hoof-uitvoerende beampte, en die netwerk se hoë profiel-nuusaanbieders soos Tucker Carlson, Sean Hannity en Jeanine Pirro nie hoef te getuig nie. Dis openbare kennis dat hierdie aanbieders geweet het hulle verkondig onwaarhede ter ondersteuning van Donald Trump. Interne kommunikasie-items van Fox, toon die betrokke Fox-mense, ook Murdoch self, het geweet daar was geen verkiesingsbedrog nie. Hulle het nietemin voortgegaan om die valshede te versprei omdat Fox nie groot getalle kykers en derduisende dollars aan advertensiegeld wou verloor nie. Groot hoeveelhede lugtyd is beskikbaar gestel aan prokureurs soos Sidney Powell en Rudi Giuliani, wat sonder enige geloofwaardige bewyse hoegenaamd, beweer het Dominion het sy verkiesings-toerusting geprogammeer om die verkiesing ‘te steel’. Die regter het Fox beveel het die bevinding van Fox se eie navorsing- en feitekontrole-afdeling dat al die bewerings bewysbaar vals was, openbaar te maak. Fox het dus die onwaarhede verkondig om kykers wat dit wou hoor, te behou, terwyl die betrokkenes geweet het wat hulle doen . Dis duidelik dat Fox ‘n uitgerekte hofsaak tot elke prys wou vermy, want van die Fox-mense se uitlatings onder mekaar, en in die algemeen, soos gedokumenteer in e-posse en ander kommunikasiekanale, sou verwoestend wees. Fox sou die risiko loop om in kruisondervraging deur Dominion se regsmense verder aansien te verloor.

Omdat hier beperkte ruimte is vir ‘n lang relaas, volstaan die uwe met enkele van die talle verdoemende gedokumenteerde uitlatings op verskillende tye deur sommige Fox-persoonlikede. Tucker Carlson oor Trump: ‘Ek haat hom met ‘’n passie. Hy is ‘n verwoester, ‘n wêreldkampioen op die gebied.’ Oor Trump se rol in die Kongresgebou-chaos van 6 Januarie: ‘Trump het net twee weke oor. Sodra hy uit is, het hy minder mag. Hy is demonies. ‘n Verwoester. Hy gaan ons egter nie verwoes nie. Ek dink reeds vier jaar lank aan hierdie dag.’ Oor Dominion : ‘Die aantygings oor die herprogrammering van rekenaar-sagteware is absoluut absurd’. Oor die prokureurs: ‘Powell lieg. Ek het haar uitgevang. Dis waansinnigheid’. Later noem hy Powell ‘n vloekwoord wat verwys na die vroulike anatomie.l

Rupert Murdoch oor Rudi Giuliani se optrede onderwyl haarkleursel teen sy wange en voorkop afloop:: ‘Dom en ontsettend skadelik. Giuliani is die enigste een wat Trump aanmoedig en mislei. Albei raak alhoe maller. Ek hoor Trump slaap nie en bons van muur tot muur. Ek is bekommerd wat hy sal doen as president’. Murdoch stuur ‘n e-pos aan sy seun Lachlan: ‘ Fox kon en moes eerste gewees het met die aankondiging dat Biden Arizona gewen het. Nietemin, deur slegs die tweede netwerk te wees het ons nog ‘n Trump-uitbarsting vermy.’. Oor Trump se beskuldiging dat die verkiesing ‘gesteel’ is: ‘Hy doen die land geen guns nie. Ek besef hy word oor-gedemoniseer, maar dit is sy eie skuld. Hy het dit self veroorsaak’.

Laura Ingraham, ‘n Fox-nuusanker, in ‘n nota aan haar mede-aanbieders Carlson en Sean Hannity nadat sy bitter ontevrede was omdat Fox vroeg aangekondig het, na druk van onder andere Murdoch, dat Joe Biden in Arizona gewen het: ‘Ons drie het aansienlike mag, meer as wat ons besef en gebruik.’ Bill Sammon, die gewese bestuurshoof van nuus wat besluit het om die aankondiging te doen , en in 2021 afgetree het: ‘Dis merkwaardig hoe swak kanaal-gewildheid goeie joernaliste bedenklike dinge laat doen. In my 22 jaar by Fox was dit die ergste eksintensiële joernalistieke krisis wat ek ervaar het.’ Chris Stirewll, die politieke redakteur wat die besluit geneem het om die Arizona-uitslag onmiddellik aan te kondig, en daarvoor afgedank is: ‘Ons is besig om die stille meerderheid kiesers te verloor onderwyl ons die malles najaag’. Raj Shah, Fox se senior-vise-president oor Fox se gewildheid na die Arizona-aankondiging:’ Ons is nie bekommerd oor die verlies van kykers aan CNN en MNBC nie, maar wel aan Newsmax en die One America-netwerk. Ons moet hierna kyk. Fox se kerngroep-kykers voel verraai. Ons moet iets hieraan doen.’

Daar is nog talle ander stukke korrespondensie wat verdoemend is. Fox het finansiële oorwegings bo die waarheid verkies. Soos verskeie waarnemers opgemerk het, dis nie persoonlike menings van anti-Foxmense nie. Maar bewese feite, en die rede waarom Fox moes skik. Dis daarom betreurenswaardig derduisende kerngroep- of ‘base’-ondersteuners van Trump en Fox besef dit nog nie. Dalk sal hulle wanneer die volgende hofsaak teen Fox, wat beloof om baie groter as die Dominion-saak te wees, baie binnekort aangehoor word.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button