Ons plesier van die week was verlede Sondag se voorblad van Rapport en die berig binne deur Hanlie Retief oor die inisiatief van Tidy Towns Shelly to Margate hier onder op die Suidkus om die inisiatief te neem om te doen wat die munisipaliteite nie kan doen nie. Dit was wonderlik om die volledige verslag te lees, met die gepaardgaande foto’s, en eerstehands kennis te neem van die goeie werk wat Stephen Herbst en sy groep vrywilligers doen om sekere dienste te lewer en ons kus te verfraai, in samewerking met die munisipaliteite. Dit is voorwaar ‘n voorbeeld van hoe gewone burgers kan help om hierdie land van verval en uiteindelik ondergang te red. Die Watergat wil al hierdie rolspelers namens ons personeel en klante bedank vir ‘n wonderlike inisiatief, wat saam met ander soortgelyke veldtogte oral in die land reeds ‘n groot verskil gemaak het. Doen so voort.
Rugbygesprekke was weer volop, met ‘n klomp uiteenlopende menings oor verskeie sake. Soos wie Jacques Nienaber gaan opvolg as Springbok-afrigter na vanjaar se Wêreldbeker-toernooi. Ek stem saam met Oom Pottie. Daar is net een keuse vir ons, en dis Johan Ackerman. Wat hy met die Lions destyds vermag het, was ongelooflik, en hy is blykbaar ook ‘n reuse-sukses in Japan. Maak Mzwandile Stick sy hulp-afrigter om die etniese balans reg te hou. Die ander onsekerheid is waarheen Rassie Erasmus na die toernooi gaan vertrek. Iewers het ons ‘n voëltjie hoor fluit ‘n top-Nieu-Seelandse span wil sy dienste bekom. Die lang verbintenis tussen hom en Nienaber sal dan tot niet wees, maar soos Pottie sê dit sou die een of ander tyd moes gebeur. Oor die spanne praat ons aanstaande week.
Ons loopstorie kom van so drie jaar gelede, maar Pottie het dit weer by ‘n besoeker, Piet van Zyl van Roodepoort, gehoor. ‘n Inwoner van Roodepoort vertel: Laas week het my tuinhulp weer nie opgedaag nie, en ek moes maar self die gras sny. Ek was Saterdagoggend in my oudste PT-broek en T-shirt besig om die gras op die sypaadjie voor my huis te sny. Nie lus om ‘n nuwe ‘casual’ te kry nie. Soos gewoonlik, as jy niemand nodig het nie, daag al die hulp in die wêreld op.
Toe die vierde een opdaag en hande in die sakke staan en vra vir ‘n ‘garden job’, verloop die gesprek soos volg: Hy: “Ek weet hoe om gras te sny, ek soek ‘n job.” Ek: “Sorry man, ek bly nie hier nie, ek werk net vir die mense wat hier binne bly.” Hy: “Eish! Employ die mense nou ‘n whitey by die garden?” Ek: “Ja, die mense betaal net R30 per dag en hulle gee nie eers kos by lunchtime nie. Het jy nie vir my ‘n sigaret nie? Einde van die storie was dat hy sy pakkie Kent-sigarette uithaal en my een aanbied. Ek vat toe een en hy steek hom vir my aan. Ek vat so drie trekke, nip hom en sit die stompie agter my oor. Met die wegstap hoor ek sy laaste woorde: “Die ANC het aaalles kom opf@k!”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
